Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL sal nóg skuld moet maak om deure oop te hou

Om sy bedryfsuitgawes oor die volgende drie jaar te dek, het die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) R12,5 miljard nodig.

Vuyani Jarana, uitvoerende hoof, sê hy het R9,2 miljard se skuld geërf toe hy by die SAL aangekom het.

Saam met sy bestaande skuld, kom dit neer op ’n totaal van R21,7 miljard.

Vuyani Jarana, uitvoerende hoof, sê hy het R9,2 miljard se skuld geërf toe hy by die SAL aangekom het.

Die SAL genereer nie genoeg inkomste om sy uitgawes te dek nie, maar die mikpunt is om oor drie jaar die winsdrempelvlak te haal. Tot dan sal die lugdiens hulp nodig hê, want hy gaan nie net aanhou geld leen nie.

Die antwoord is ’n kombinasie van skuld, aandeelhouerskapitaal (dus ’n reddingsboei) en ’n strategiese ekwiteitsvennoot.

Jarana het Donderdag aan die parlement se staande komitee oor finansies gesê daar is twee denkskole oor ’n strategiese ekwiteitsvennoot vir die SAL.

  • Een denkskool is dat die lugdiens eers reggeruk en aantreklik gemaak moet word voordat hy iemand sal kan oortuig om in die onderneming te belê.
  • Die ander denkskool is dat die SAL in ’n krisis is en dat ’n strategiese vennoot nou nodig is om saam deur die pyn te gaan om die lugdiens te help herstel.

Die oorsigkomitee wat deur Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies, gelei word, kyk hoe die SAL die mark kan toets om te sien wat die aptyt is vir ’n belegging in die staatslugdiens.

Jarana sê die SAL se vaardighede in lugvaartkundigheid is uitgeput. Die SAL het konsultante en kundigheid op kort termyn gehuur om die lugdiens te help.

Oor versoeke dat die SAL in sakeredding geplaas moet word, het Jarana gesê hy glo nie ’n sakereddingspraktisyn sal met enige beter of ander omdraaiplan vorendag kan kom as wat reeds bestaan nie.

Hy meen die versoeke vir sakeredding is goedbedoeld, maar kan onbedoelde gevolge hê. Sakeredding is anders as bankrotskapsbeskerming.

Gungubele sê die tesourie skakel nog met die ouditeur-generaal oor die tydrooster waarvolgens die SAL se status as lopende saak gehanteer sal word.

Voordat die SAL kan wegskuif onder die tesourie se toesig terug na die departement van openbare ondernemings, moet eers seker gemaak word die lugdiens is op koers in die regte rigting, sê Gungubele.

Hy is nie bewus daarvan dat die kabinet al besluit het dat die SAL moet terugskuif na die departement van openbare ondernemings nie.

Oor die reddingsboei het hy gesê R16 miljard van die meer as R21 miljard wat die SAL benodig, is reeds gedek deur die staat se bestaande waarborg aan die lugdiens. Daar moet dus net na nog sowat R5 miljard gesoek word.

Volgens Gungubele het Nhlanhla Nene, minister van finansies, die afgelope Maandag met Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, vergader oor die samesmelting van die SAL, SA Express en Mango.

Volgens Jarana is Mango en die SAL reeds ’n ekonomiese eenheid.

Volgens Gungubele moet die skuld van R9,2 miljard teen Maart 2019 betaal word.

Oor aannames oor die olieprys in die SAL se nuwe sakeplan sê Jarana die bestuur is reg om aanpasbaar te wees namate markfaktore verander.

“Niemand het ’n kristalbal oor hoe die rand gaan verhandel en of ons oor twee jaar in ’n resessie gaan wees nie. Die olieprys kan albei kante toe gaan. Jy moet die risiko bestuur.”

JB Magwaza, voorsitter van die SAL, sê die SAL-direksie is gereed om met die tesourie te praat oor die omvang van die belang in die SAL wat te koop is aan strategiese ekwiteitsvennote. Die regering moet uiteindelik daaroor besluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.