Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL se bankrekening vinnig op pad na R0

Die beleërde Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het R600 miljoen in die bank, maar R1 miljard se laste. Sonder finansiering van die regering kan die sakereddingsproses nie voortgaan nie.

Die SAL is tegnies insolvent, en sonder nog finansiering vanaf die regering sal die sakereddingsproses nie kan slaag nie.

Teen Junie verwag die departement van openbare ondernemings dat die SAL R0 in sy bankrekening sal hê omdat sy laste net aanhou groei.

Dit was die syfers wat Woensdagaand aan die parlement se staande komitee oor toedelings voorgelê is.

“Die SAL is al 13 jaar lank tegnies insolvent,” sê Kgathatso Tlhakudi, waarnemende direkteur-generaal van die departement van openbare ondernemings.

Die lugdiens se totale netto verlies vir die afgelope 13 jaar beloop nou al R34 miljard.

LP’s het gal gebraak oor die gebrek aan ’n finale sakereddingsplan vir die staatsonderneming en gevra wat geword het van die reddingsboei van R5,5 miljard wat einde 2019 toegeken is.

Volgens Bongani Nkosana, ’n verteenwoordiger van die sakeredders, is die reddingsboei lankal op.

Die sakeredders het daarin geslaag om die lugdiens se buitensporige uitgawes met R500 miljoen per maand te sny, maar R2 miljard se uitgawes per maand het steeds die reddingsboei opgevreet oor die ses maande van sakeredding.

Les Matuson en Siviwe Dongwana, sakereddingspraktisyns, was nie teenwoordig nie. Hulle het verskoning gemaak en gesê hulle finaliseer juis die sakereddingsplan, wat Vrydag gepubliseer sal word.

Die SAL het in die ses maande sedert sakeredding op 5 Desember begin het sowat R5 miljard gegenereer uit verkope, wat hom in totaal met sowat R10 miljard gelaat het om tot nou te oorleef.

Sedert middel Maart het reisbesprekings opgedroog, en voor elke poging tot kostebesparing op groot skaal, soos om mense af te dank, het die regering ’n stokkie gesteek.

Volgens Nkosana is daar tans tegnies nog R1,2 miljard in die SAL se rekeninge, maar die helfte daarvan is geoormerk vir terugbetalings aan passasiers wat nie tydens die staat van inperking kan vlieg nie. Die ander helfte is geoormerk vir vaste uitgawes.

Sowat 20% van die SAL se uitgawes beloop sy salarisrekening, wat Nkosana sê te groot is.

Dit is daarom dat die sakeredders tans aandring op die reg om voort te gaan met ’n art. 189-afleggingsproses.

Die vakbonde Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) het ’n interdik bekom om die afleggings te keer voordat die finale sakereddingsplan ter tafel gelê is. Die sakeredders appelleer teen dié hofuitspraak.

Nkosana het beklemtoon hoe noodsaaklik dit is dat afleggings moet geskied as die regering enigsins bates wil oor hê om ’n “nuwe lugdiens” mee te begin wat die SAL en SA Express (wat op 9 Junie gelikwideer word) se roetes en dienste kan oorneem, al is dit op ’n kleiner skaal.

Dis ook die rede wat Nkosana gegee het hoekom nog geen oudit van vaardighede by die lugdiens gedoen is soos versoek is nie.

Volgens Nkosana was die plan om alle personeel af te dank en dan aansoeke oop te stel net vir noodsaaklike poste waarvoor werknemers sou kon aansoek doen.

Dit sal dan die sakeredders die kans gee om gelyktydig die werksmag te verklein en te verseker dat slegs die mees bekwame personeel by die lugdiens werk.

Maar sonder finansiering vanaf die regering waarsku Nkosana kan die sakereddingsproses nie vorder nie, al raas en blaas hy hoeveel dat die sakeredders die lugdiens moet red.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.