Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL se konsultante vreet al hap van R28,5 miljoen

Die departement van openbare ondernemings het in die 12 maande tot 1 Julie vanjaar al meer as R28,5 miljoen aan konsultante bestee om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te help red.

Seabury International Corporate Finance het die staat die meeste uit die sak gejaag, met ’n rekening van $997 500.

Dit bedra byna twee derdes van al die geld wat die departement in dié tyd aan konsultante bestee het.

Dit blyk uit ’n skriftelike antwoord van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, op ’n parlementêre vraag van die EFF-parlementslid Andrew Arnolds.

Arnolds, lid van die nasionale raad van provinsies, wou weet presies hoeveel die departement in die tydperk van 1 Junie 2019 tot 1 Julie 2020 aan konsultante bestee het, wat hul name is en watter dienste hulle gelewer het.

Volgens Gordhan se lys het die Amerikaanse konsultante Seabury International Corporate Finance die staat die meeste uit die sak gejaag, met ’n rekening van $997 500, wat teen die huidige wisselkoers neerkom op net meer as R15,38 miljoen.

Seabury moes die departement help met advies oor die herstrukturering van die SAL. Daarby kom ’n rekening van R12 miljoen van RMB wat aangestel is as transaksie-adviseur om ’n strategiese ekwiteitsvennoot vir die SAL te vind.

Gordhan het onlangs gesê onderhandelinge hieroor is tans in ’n gevorderde en sensitiewe stadium.

Seabury het in 2017 ook werk vir die SAL gedoen, teen ’n lywige rekening van R59,1 miljoen, het The Citizen destyds berig.

Die regsfirma Bowmans het op sy beurt regsadviesdienste gelewer oor die SAL se herstrukturering, teen ’n koste van R1,15 miljoen.

Die SAL-verwante koste vorm sowat 61% van die totale meer as R46,68 miljoen wat die departement in dié tyd aan konsultante bestee het.

Ander hoë konsultantrekeninge by die departement was meer as R5,8 miljoen vir Blue Planet Consulting wat ’n impakstudie moes doen oor die korporatisering van die Transnet- nasionale haweowerheid, en R3 miljoen van R. Kalidass & Associates vir interne ouditwerk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.