Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL se Mango-plan gekap
Dudu Myeni, omstrede voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens se direksie.

Die staatsbeheerde Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se planne om sy filiale onder die beheer van sy direksie te kry, is nie net ’n oortreding van verskeie maatskappyregulasies nie, maar is ook onmededingende gedrag.

Só waarsku mededingende lugdienste en lugvaartkenners oor die jongste poging van Dudu Myeni, die omstrede voorsitter van die SAL-direksie en ’n bondgenoot van pres. Jacob Zuma, om die SAL se filiale onder haar direksie se beheer te kry.

’n SAL-verslag wat Rapport onder oë gehad het en reeds ’n jaar gelede in werking gestel moes word, bevat ’n uiteensetting van hoe die direksies van onder meer die laekoste-lugdiens Mango, die lugdiens SA Express en die vragafdeling van die lugdiens onder beheer van die SAL se direksie geplaas moet word.

Daar word in die dokument, getiteld “Raamwerk vir die regulering van korporatiewe beheermaatreëls tussen die SAL en sy filiale”, aangevoer dat die SAL-direksie sy verpligtinge oor korporatiewe bestuur hierdeur nakom soos vereis word deur die King III-kodes oor korporatiewe beheer.

Ooreenkomstig dié beleid sal die direksies van filiale uit ’n maksimum van vyf direkteure bestaan. Die direksies sal saamgestel word uit drie nie-uitvoerende direkteure wat ook drie nie-uitvoerende direkteure is van die SAL-direksie, asook twee uitvoerende direkteure: die uitvoerende hoof en die finansiële hoof van die filiaal.

In werklikheid beteken dit die SAL se direkteure sal stembeheer oor sy filiale verkry. “Die nie-nakoming hiervan kan lei tot dissiplinêre optrede, insluitend ontslag,” lui die dokument.

Wat kenners sê

Die bestaande praktyk is dat onafhanklike direksies in beheer is van die SAL se filiale en dat slegs een direkteur van die SAL in dié direksies dien.

Dit neem die moontlikheid weg om kundigheid van buite die SAL in te bring, soos om perspektief te verskaf.

Charl Kocks, kenner van korporatiewe beheer by Ratings Afrika, sê dit is kommerwekkend dat ’n gesentraliseerde bankrekening volgens die jongste beleid vir die SAL en al sy filiale geskep en kontantbestuur sentraal bestuur sal word.

“Dit is ’n oortreding van die Maatskappywet, tensy die beheermaatskappy en sy filiale vooraf reëlings oor sulke lenings onder mekaar uitklaar,” sê hy.

Volgens hom is dit verder ongehoord dat volgens hierdie beleid geen direkteure van buite die lugdiens op sy filiale se direksies mag dien nie.

“Dit neem die moontlikheid weg om kundigheid van buite die SAL in te bring, soos om perspektief te verskaf,” sê hy.

Ansie Ramalho, uitvoerende hoof van die Instituut van Direkteure van Suid-Afrika (Io­DSA), sê hoewel sy nie die SAL-verslag onder oë gehad het nie, klink dit vir haar heeltemal teenstrydig met die beginsels van die King III-kodes.

Die beginsels waarna in die SAL se verslag verwys word, handel oor korporatiewe beheer oor filiale en die konflik van belange, verduidelik sy.

“Die kodes bepaal dat ’n beheermaatskappy bepaalde regte het oor sy filiale, maar dit het geen reg om die direkteure van die filiale se fidusiêre pligte te vervang nie.

“Dit vereis dat die beheermaatskappy ’n verpligting het om dit te beskerm,” sê sy.

Die Mededingingskommissie ondersoek reeds teenmededingende gedrag by Mango.

Teenmededingende gedrag

Kirby Gordon, FlySafair-woordvoerder, sê hulle is bekommerd dat nouer samewerking tussen die SAL en sy filiale verdere onmededingendheid in die bedryf sal skep.

Die Mededingingskommissie ondersoek tans klagte van teenmededingende gedrag teen die SAL en Mango nadat die SAL laat blyk het dat hy Boeing 737-800-vliegtuie teen ’n guns­tige koers aan Mango verhuur het.

Dit beteken dat die SAL, Mango en SA Express met staatsteun teen ’n verlies bedryf word.

Lumkile Mondi, kenner van korporatiewe beheer aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), sê Myeni se pogings om SAL se filiale onder die beheer van haar direksie te kry, is “sinloos”.

“Pravin Gordhan (minister van finansies) het onlangs aangedui dat hy geensins belang stel in enigiets wat die SAL doen nie totdat ’n nuwe direksie en ’n ervare bestuurspan aangestel is en behoorlike finansiële state vir die lugdiens ingedien is.

“Totdat dit gebeur, is daar geen manier dat die tesourie enige geldkrane vir die SAL sal oopdraai nie,” sê Mondi.

Tenderknoeiery

Die lugdiens moes die afgelope week verskeie vure probeer doodslaan nadat Cynthia Stimpel, geskorste tesouriehoof, in hofstukke beweer het dat Phumeza Nhantsi, waarnemende finansiële hoof by die SAL, ’n kontrak met BnP Capital bewimpel het om die lugdiens se R15 miljard-skuld te herstruktureer.

Dit volg op klagte dat behoorlike tenderprosedures nie gevolg is nie en dat die SAL-direksie teen die advies van die tesourie opgetree het en BnP Capital aangestel het.

Stimpel was bekommerd oor die wettigheid van die kontrak wat BnP as tussenganger R256 miljoen in die sak sou bring.

Stimpel is in die arbeidshof in ’n geding met die SAL betrokke om haar skorsing tersyde te stel.

Sy voer aan sy is geskors weens die beskermde bekendmaking van besonderhede van dié ooreenkoms aan die nasionale tesourie en die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa).

Die SAL voer aan sy het vertroulike inligting aan die media laat uitlek. Stimpel ontken dié bewering.

Bedryfsverlies

Rapport is in besit van ’n verslag oor die SAL se finansiële prestasie in die kwartaal tot einde Junie wat toon die SAL het in die drie maande tot einde Junie ’n bedryfsverlies van R1,388 miljard gely en dat sy finansieringskoste met 51% gegroei het.

Die verlies kom ondanks ’n groei van 7% in omset.

Die verslag dui ook op geweldige spanning tussen die SAL en die Mango-bestuur. Die SAL het aanvanklik beplan om nie meer tussen Johannesburg en Port Elizabeth te vlieg nie, en dat Mango al dié vlugte sou oorneem.

Later is besluit die SAL se onttrekking aan die roete sal geleidelik wees, maar dit blyk Mango het sonder konsultasie met die SAL ekstra vlugte op die Port Elizabeth-roete geplaas.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.