SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL-staking verby: Hier is die volledige skikking

Die week lange staking by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is oor en verby. Die lugdiens en vakbonde het Vrydag ’n ooreenkoms oor salarisse bereik.

Dit kom nadat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) ingegryp het in die onderhandelinge.

Luidens ’n verklaring wat deur die SAL uitgereik is, is die ooreenkoms as volg:

  • ’n Verhoging van 5,9% terugwerkend tot 1 April 2019. Die nuwe salarisse sal in Februarie 2020 in werking gestel word mits geld daarvoor beskikbaar is.
  • Die terugbetaling vir die eerste ses maande (April tot September 2019) sal in Maart 2020 betaal word.
  • Die terugbetaling vir die oorblywende vier maande (Oktober tot Januarie 2020) sal in April 2020 betaal word.
  • Die verhoging en alle terugbetalings soos hierbo genoem, is onderhewig aan die beskikbaarheid van geld.
  • Die art. 189-proses luidens die Wet op Arbeidsverhoudinge wat op 11 November op vakbonde bestel is, sal tot 31 Januarie 2020 uitgestel word. Dit is net van toepassing op nie-bestuurslede.
  • Die art. 189-proses sal voortgaan wat betref bestuurders met die volgende vergadering wat vir 25 November geskeduleer is.
  • Die SAL en vakbonde sal owerhede nader om deel te neem aan die opleidingskema vir ontslag ingevolge die reëls van dié skema.
  • 'n Taakspan sal aangestel word om vas te stel hoe koste beter bespaar kan word.
  • Numsa en Sacca sal onmiddellik hul staking beëindig.

Die SAL bevestig in 'n verdere verklaring aangesien die staking verby is, sal die meeste van sy vlugte reeds op Saterdag 23 November weer in bedryf gestel word.

“In praktiese terme beteken dit dat ons teen Saterdag weer ’n bykans normale diens gaan bedryf,” lui die verklaring.

Die SAL waarsku dat enkele van sy plaaslike en streeksvlugte steeds gekanselleer is. Hy sê hy sal verseker dat alle passasiers op ander vlugte geakkommodeer word.

Die SAL vra weer eens om verskoning vir die ongerief wat die staking veroorsaak het.

Hy bedank ook sy vennote Mango, Airlink en SA Express vir hul hulp om passasiers te akkommodeer.

Salarisse

Wat betref die betaling van salarisse in November, is daar nog geen nuus nie.

Van die SAL se vliegtuie staan op ’n aanloopbaan.Foto: Bloomberg

Die SAL het Donderdag 'n brief aan werknemers geskryf waarin hy sê dat salarisse waarskynlik nie betyds betaal gaan word nie.

Dit volg nadat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Woensdag reeds gewaarsku het dat dit die geval is.

Derek Mans, Solidariteit se lugvaartverteenwoordiger, het bevestig dat vakbonde om 11:00 met die lugdiens oor November se salarisse vergader het.

Die lugdiens vergader egter eers Vrydagmiddag met banke voordat uitsluitsel oor salarisse gegee kan word.



MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.