Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: ‘Skuldeisers sal moet inbetaal’

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is volgens die sakeredder so bankrot dat hy skuldeisers afraai om ’n likwidasie te steun omdat die krediteure uiteindelik geld sal moet inbetaal.

Les Matuson, sakereddingspraktisyn, spreek Vrydag op die eerste krediteurevergadering die SAL se skuldeisers in Sandton toe.

Les Matuson, die SAL se sakereddingspraktisyn, het Vrydag aan ’n groot groep skuldeisers in Sandton gesê dít is die hoofrede waarom hy glo sakeredding – eerder as likwidasie – is die enigste opsie.

Boonop soek die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata) teen die einde van die maand ’n waarborg van €60 miljoen (R945 miljoen), of hy skop die SAL uit, het Rapport verneem.

Nie Iata óf Matuson wou dit egter bevestig nie.

Iata bedryf die betaalstelsel wat lugdiensbetalings en ontvangste wêreldwyd fasiliteer, en lidmaatskap is dus onontbeerlik vir die SAL om te oorleef.

Matuson het Vrydag aan die krediteure gesê die ouditeursgroep PwC het ’n hoëvlak-opsomming van die SAL se finansies gedoen en hy glo ná konsultasies met die regering, vakbonde, Iata, finansiers en regslui dat die lugdiens wel gered kan word.

Dit is PwC se studie wat gewys het hoe rampspoedig ’n likwidasieproses sal wees.

“Die SAL huur die meeste van hul vliegtuie,” het Matuson gesê, en daar is dus weinig bates.

Volgens hom sal die bates nie eens die voorkeurskuldeisers se eise kan dek nie.

“As jy ’n eis registreer, sal van jou verwag kan word om by te dra tot die koste,” het hy die skuldeisers gewaarsku.

Nie een van die skuldeisers wat teenwoordig was, het beswaar gemaak teen die voortgesette sakeredding nie.

Selfs uit die karige syfers wat aan krediteure bekend gemaak is, blyk dit in watter groot moeilikheid die lugdiens is.

Die SAL het in 2017 laas finan­siële state gepubliseer en sedertdien is sy boeke grootliks in geheimhouding gehul.

  • Luidens die nuutste dokumentasie skuld die SAL derde partye ongeveer R20,4 miljard. In 2017 het die lugdiens bates van net R15,6 miljard gehad.
  • Luidens die laaste state – tot Maart 2017 – het die SAL nog ’n omset van R30,7 miljard gehad. Die nuutste dokumentasie wat beskikbaar gestel is, wys die jaarlikse omset het oor ’n krans geval tot net sowat R23,8 miljard.
  • Al het Vuyani Jarana, vorige uitvoerende hoof, vir LP’s gesê hy is vasbeslote om die personeelgetalle te verminder, het dié inisiatiewe oënskynlik nie veel vrugte afgewerp nie. Luidens die 2017-jaarverslag het die SAL tóé 5 752 werknemers gehad. Die nuutste dokumentasie wys daar is tans 5 421 werkers.

Cloete Murray, nog ’n sakeredder wat by die projek betrokke is, het aan Rapport gesê hy meen die SAL kan inderdaad gered word.

Die lugdiens word egter dood gewurg deur die bepalings van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies (PFMA) waaraan dit moet voldoen omdat dit ’n staatsbeheerde instelling is.

Nie net bring die regering se vereistes vir byvoorbeeld voorkeur-verskaffers bykomende koste mee nie, maar dit verhoed ook die SAL om vinnig te reageer soos gewone ondernemings.

Murray, wat die vakbond Solidariteit se voorkeur-redder was in hul hofaansoek om die SAL in sakeredding te plaas, gee die voorbeeld van ’n fiasko waarmee Jarana te doen gehad het.

Hy sê Jarana wou ’n internasionale konsultantegroep aanstel om ’n sekere aspek van die SAL se bedrywighede te ondersoek. Toe hy agt maande later eers terugvoering van die nasionale tesourie kry, was die geleentheid verby en die aanstelling nie meer nodig nie.

Murray sê die SAL sal nie gebonde wees aan die PFMA terwyl die lugdiens in sakeredding nie.

Die SAL se personeelgetalle is ook nie so buitensporig soos baie mense dink nie, sê Murray.

“As jy die personeel van Air Chefs en SAL Tegnies buite rekening laat, vergelyk die getal personeellede per beskikbare sitplek nie so sleg met ander lugdienste nie,” sê hy.

Matuson het krediteure vir uitstel gevra om die sakereddingsplan nie op 13 Januarie, soos die wet bepaal nie, maar op die laatste op 28 Januarie te publiseer. Die wet maak voorsiening vir uitstel as die krediteure instem.

Hy sê daar is verskeie moontlike scenario’s wat gemodelleer en aan strestoetse onderwerp moet word voordat die reddingsplan gefinaliseer kan word.

Die suksesvolle redding is egter afhanklik van reddingsfinansiering.

Die SAL se bestaande finansiers het reeds R2 miljard verskaf, maar die R2 miljard wat die regering beloof het, het nog nie gekom nie.

Matuson het nie gereageer op vrae van Rapport oor wanneer dit verwag word nie.

Matuson het aangekondig dat hy en Siviwe Dongwana, wat Donderdag as mede-sakereddingspraktisyn aangestel is, op versoek van die SAL se finansiers die internasionale groep Alvarez & Marsal aangestel het om die lugdiens se bedrywighede onder die vergrootglas te plaas.

Die konsultantegroep is internasionaal bekend as herstruktureringspesialiste en het baie ervaring in die lugvaartbedryf. Van hul vorige kliënte sluit in Delta Air­lines, Air France, British Airways, Airbus en Abu Dhabi-lughawe.

Juliette de Hutton, ’n vennoot by Bowmans, is aangestel as onafhanklike voorsitter van die komitee van krediteure. Sy was voorheen betrokke by die sakeredding van Evraz Highveld Steel, Shiva Uranium en Basil Read.

Matuson en Dongwana sal voort­aan maandeliks terugrapporteer oor die vordering met die redding van die SAL.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.