Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: Sorg vir jou eie reisversekering, maan Asata

Reisigers wat binnekort vlieg, moet seker maak hulle het reisversekering, het Asata, die vereniging van Suider-Afrikaanse reisagente, Vrydag gewaarsku.

Zuks Ramasia, waarnemende uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Lugdiens. Foto: Reuters

En die parlement se portefeuljekomitee oor toerisme het gevra Nkhensani Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, moet nou ingryp.

Dit kom nadat die reisagentskap Flight Centre aangekondig het hy gaan nie meer SAL-vliegkaartjies verkoop nie, want sy versekeraar is nie meer bereid om dekking te bied vir die SAL ingevolge sy bankrotskapvoordeel nie. Dit impliseer voornemende passasiers sou nie eise by Flight Centre kon indien as die SAL bankrot speel en hulle daarom nie meer kan vlieg nie.

“Ná die onlangse staking en die huidige gebrek aan vertroue in die stabiliteit van die SAL is daar verskeie uitkringende ontwrigtings waarvan reisigers bewus moet wees,” waarsku Asata in ’n verklaring.

Otto de Vries, uitvoerende hoof van Asata, sê Asata monitor die situasie by die SAL en werk nou saam met sy lede om die risiko’s en kommer van kliënte te verstaan. “Ons praat ook met die SAL en die regering in ’n poging om die situasie te bestuur.

“Ons betree nou die besige vakansietyd vir Suid-Afrikaanse reisigers en alle pogings moet aangewend word om te verseker hul vakansieplanne word nie ontwrig nie,” het De Vries gesê.

Hy was nie vir verdere navrae bereikbaar nie.

Vlieg met SAL?
  • Die SAL word steeds hoog aangeskryf deur die vliegpubliek, en het verlede jaar vir die 16de opeenvolgende jaar vier sterre in die Skytrax-peiling gekry.
  • In 2018 se Apex Regional Passenger Choice Awards is die SAL aangewys as die lugdiens met die beste kajuitdiens, beste kos en drank, beste sitplekgerief en as beste lugdiens in Afrika.
  • Die SAL is op sommige roetes na die res van Afrika die enigste beskikbare lugdiens, en geniet dus eksklusiwiteit.

Flight Centre was nie gister bereid om syfers te gee oor watter persentasie van sy vlugbesprekings via die SAL gedoen word nie. Andrew Stark, uitvoerende hoof van Flight Centre, is op reis vir sake en die reisagentskap se finansiële hoof, Euan McNeil, het nie op navrae gereageer nie.

Navrae by ander groot reisagente soos Tourvest Travel Services, wat Seekers Travel en Maties Travel insluit, en by Sure Travel, het nie reaksie ontlok nie.

Die SAL sou later Vrydag moontlik ’n verklaring uitreik oor Flight Centre se besluit, het Tlali Tlali, SAL-mediawoordvoerder, gesê.

’n Bron in die lugdiensbedryf wat anoniem wil bly meen Travel Insurance Consultants, wat reisversekering aan Flight Centre verskaf, weet dalk iets wat niemand anders weet nie en het ’n goeie rede waarom hy besluit het om dekking te onttrek.

Maar dit kan ook ’n instinktiewe paniekreaksie wees te midde van al die geraas om die SAL.

Alternatiewelik kan dit selfs ’n doelbewuste poging wees om markvertroue in die SAL te skaad.

Omdat die SAL in staatsbesit is, sou ’n mens dink die risiko vir passasiers om nie vergoed te word nie, is veel laer as die SAL sy bedrywighede sou moes staak vergeleke met ’n private beheerde lugdiens, het die bron gegis.

Die parlement se portefeuljekomitee oor toerisme het intussen gevra dat Kubayi-Ngubane ingryp en leiding gee, want die SAL-kwessie is nie nou meer net in die domein van die ministers van finansies en van openbare ondernemings nie. Kubayi-Ngubane behoort pres. Cyril Ramaphosa te vra om in te gryp en ’n taakspan van ministers in te span.

Met die besige Kerstyd in aantog is ’n vinnige reaksie nodig om die land en die wêreld te verseker dat Suid-Afrika steeds ’n voorkeurbestemming is en dat sy nasionale lugdiens steeds dienste sal lewer, het Supra Mahumapelo, voorsitter van die toerismekomitee, gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.