Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL-staking: érger aksie dreig ná bemiddeling misluk

Pogings tot bemiddeling tussen vakbonde en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het misluk, en die betrokke vakbonde het nou beloof om hul stakingsaksie uit te brei.

'n Vliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) maak reg om te land.

Die metaalwerkersvakbond, Numsa, en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) het Sondag in ’n gesamentlike verklaring gesê die vergadering wat hulle Saterdag met die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gehad is, het geen resolusie of oplossing opgelewer nie.

Die hoofbron van die vakbonde se frustrasie is blykbaar onderhandelinge rakende hul sekondêre eise aan die SAL.

Van dié eise is dat werkers deur middel van inkontraktering bekom moet word vir verskeie bedryfsbehoeftes van die SAL, wat sodoende ook die werke van huidige werknemers sal beskerm.

Numsa en Sacca het nou ’n beroep op ander vakbonde en lede gedoen vir ’n uitbreiding van die staking tot die groter lugvaartbedryf sodat daar in solidariteit saam gestaak kan word. Volgens die vakbonde sal hulle dan saam staak teen die “mishandeling” van arbeid en onnodige risiko’s tot werksekerheid by die SAL, asook ander lugdienste.

“Die bestuur van die SAL weier om ons eise te aanvaar, wat vir ons bevestig dat hulle oneerlik is wanneer hulle sê dat hulle die SAL wil red,” lui die verklaring.

“Dit word bevestig deur die besluit om Sondag bykomende (plaaslike) vlugte te kanselleer. Die werkgewer wil eintlik nie ’n oplossing vir die geskil vind nie.”

LEES OOK: SAL-chaos: Solidariteit se lede hou aan werk

Die verklaring sê Numsa sal nou met werkers begin reël om ’n sekondêre staking van stapel te stuur by maatskappye soos FlySafair, Mango, SA Express, Air Chefs, die Burgerlugvaartowerheid en die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa).

“Ons veg teen afleggings, korrupsie en privatisering. Ons doen ’n beroep op al ons lede in hierdie ondernemings om in solidariteit deel te neem aan ons staking, want die veranderinge by die SAL sal hulle ook beïnvloed.

“Die lugdiens kan en moet gered word om werke verder af in die waardeketting te beskerm,” lui die verklaring.

Die verklaring het ook die bestuur van SA Express veroordeel omdat hulle in September vanjaar 124 werkers by die lugdiens afgelê het. Volgens die vakbonde was dié afleggings slegs ’n verdere manier waarop die maatskappy die mislukking van die bestuurslui om die lugdiens reg te ruk probeer verdoesel.

LEES OOK: Likwidasie sal SAL R40 miljard kos

Die staking volg nadat die SAL ’n herstruktureringsproses aangekondig het waardeur 944 werknemers moontlik hul werk sal verloor, wat die feitlik bankrot lugdiens R700 miljoen sou kon bespaar.

Werkers het die loonverhoging van 5,9% van die SAL verwerp en onder meer op ’n 8%-verhoging aangedring.

Die SAL moes intussen plaaslike vlugte tot en met Maandag kanselleer, maar internasionale vlugte hervat wel vanaf Sondagaand. – Fin24, verwerk

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.