Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL-staking: ‘Geen vliegtuig sal SA verlaat’

Geen vliegtuig sal Suid-Afrika verlaat as die bestuur van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) nie na die onderhandelingstafel terugkeer en aan stakende werkers se eise voldoen nie.

Dié dreigement is Maandagmiddag gemaak op die vierde dag van die voortslepende staking wat dreig om die land se hele lugvaartbedryf op sy knieë te dwing.

Christopher Shabangu, president van die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca), wat saam met die metaalwerkersvakbond Numsa die staking dryf, het Maandagmiddag gesê die staking gaan voort.

Foto ter illustrasie. Foto: Felix Dlangamandla

Staking sal na hele sektor uitbrei

Werkers eis ’n salarisverhoging van 8% van die “totaal bankrot” SAL.

“Ons plan is ongelukkig om die hele lugvaartsektor tot stilstand te dwing. Dit is tans net SAL Tegnies wat nog onderhandel. Ons onderhandelings is op ’n dooiepunt en ons wag nou vir die SAL-bestuur om dit te hervat. Indien nie, sal ons die staking na die hele sektor uitbrei. Geen vliegtuig gaan die land verlaat nie,” het hy gesê.

Sacca en Numsa het vroeër in ’n verklaring gesê hulle “konsulteer” met hul lede by Burgerlugvaartowerheid, Mango, Safair, SA Express, die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika, Reshebile Security, Morena Cleaning, Vizini (’n instandhoudingsmaatskappy), Azda, Swissport, BidAir Services en Comair om in solidariteit met SAL-werkers te staak.

Lugvaartspyseniers soos Air Chefs, Food Directions, LSG Sky Chefs en dnata se werkers word ook gekonsulteer.

Shabangu het Maandag gesê hul konsultasies duur voort. “Ons sal môre (Dinsdag) ’n aankondiging doen oor wanneer ons die sektor gaan toemaak.”

Vlugte hervat

SAL het Maandag gesê hy is van plan om vlugte na ses bestemmings op die Afrika-vasteland – Accra, Lagos, Lusaka, Maputo, Windhoek en Harare – van Dinsdag af weer in te stel. Dit is bykomend tot al die SAL se internasionale vlugte wat nou ten volle in bedryf is.

Netwerk24 het Maandag verneem dat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, binnekort ’n verklaring oor die kwessie sal uitreik.

Tlali Tlai, SAL-woordvoerder, kon nie Maandag vir kommentaar bereik word nie.

'Roekeloos en sabotasie'

Khaya Magaxa
Khaya Magaxa Foto: Melinda Stuurman

Intussen het Khaya Magaxa, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, met kommer kennis geneem van die uitsprake deur die vakbonde soos dié dat Suid-Afrikaners nie met die SAL moet vlieg nie en het dit as “roekeloos en sabotasie” bestempel.

“Terwyl die komitee die regte van personeel ondersteun om binne die raamwerk van die arbeidswetgewing te staak, is dit onverantwoordelik vir vakbonde om (ook) uitsprake te maak dat die vlugte bedryf sal word deur personeel op kort kontrakte sonder die vereiste ervaring.”

Die komitee erken dat die uitdagings wat die SAL in die gesig staar ’n “regstreekse gevolg van magsmisbruik en korrupsie is wat deur staatskaping veroorsaak is” en dat die werkers nie verantwoordelik is vir die situasie nie.

Toerismesektor

Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, het op haar beurt gesê as die hele lugvaartbedryf tot stilstand gedwing word, sal dit verwoestende gevolge op veral die toerismesektor hê.

Vakbonde het volgens Mazzone te veel mag en hul nabyheid aan die regering laat hulle toe om die land as gyselaar te hou, terwyl hulle onoorkomelike skade aan die ekonomie aanrig.

Cyril se hervormingsplanne

Dawie Roodt

Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Group, sê die SAL-staking is net die eerste skote van ’n “dreigende oorlog” om pres. Cyril Ramaphosa se hervormingsplanne vir alle staatsinstellings in die wiele te ry.

“Wat nou by die SAL gebeur, is baie belangrik omdat die konflik tussen die staat en georganiseerde arbeid onvermydelik is (weens die hervormingsplanne). Dit gaan oorspoel na ander staatsentiteite soos Eskom, Transnet, ens.

“Daarom is dit belangrik dat die regering sy rug nou styf maak. As hy ingee, is dit neusie verby vir Suid-Afrika. As die regering nie die SAL kan herstruktureer en regruk nie, sal hy dit ook nie by ander staatsentiteite kan doen nie.”

Reddingsboeie

Volgens hom word die SAL kunsmatig deur reddingsboeie aan die gang gehou omdat dit “totaal bankrot” is. “Die beste sal wees om dit te sluit. Ek dink hulle gaan dit net afskaal en verder kunsmatig aan die lewe hou.”

Linden Birns, onafhanklike lugvaartkenner en besturende direkteur by Plane Talking, sê in Suid-Afrika ondersteun en bevoordeel die lugvaartbedryf 470 000 poste en dra dit tot sowat R157 miljard (3,2%) by tot die bruto binnelandse produk (BBP).

Hy het op ’n vraag oor of daar ’n plek is vir ’n staatsbeheerde lugdiens gesê dit is onbelangrik wie die lugdiens besit. Singapore Airlines word deur die staat besit, asook Emirates in Dubai, wat baie winsgewend is. “Staatseienaarskap is nie noodwendig ’n slegte ding nie. Dit moet gepas gekapitaliseer wees, genoeg geld hê vir sy bedrywighede, beleggers moet genoeg geld beskikbaar stel sodat daar in die regte toerusting en mense belê kan word.”

Die SAL-staking in syfers:

Maandag was die vierde dag van die staking.

Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging eis ’n salarisverhoging van 8%.

Die SAL het aanvanklik 5,9% aangebied – dieselfde wat sy vlieëniers ontvang het (dit is egter eers van krag van April 2020).

SAL het verlede week aan parlement gesê ’n staking sal R50 miljoen per dag kos.


Meer oor:  Lugdiens  |  Sal  |  Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.