Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: Staking verby, nou vir geld kry

Hoewel daar Vrydagaand laat nog geen nuus was oor die betaling van salarisse einde vandeesmaand aan personeel van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) nie, is die week lange staking by die lugdiens verby.

Die lugdiens en vakbonde het met die ingryping van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) ’n ooreenkoms oor salarisverhogings bereik – míts daar geld is om dit te betaal.

’n SAL-vliegtuig staan geparkeer op die O.R. Tambo-lughawe naby Johannesburg. Foto: Reuters

Die stakers, lede van die metaalwerkersvakbond Numsa en die Kajuitbemanningspersoneel van Suid-Afrika (Sacca), sou ingevolge die ooreenkoms onmiddellik hul staking beëindig.

Dit beteken dat die SAL vandag al weer ’n bykans normale diens gaan bedryf, sê die lugdiens in ’n verklaring.

Die SAL maan wel dat enkele van sy plaaslike en streekvlugte steeds gekanselleer is. Hy sê hy sal seker maak dat alle passasiers op ander vlugte plek kry.

Wat betref die betaling van salarisse vandeesmaand, is daar nog geen nuus nie.

Die SAL het Donderdag in ’n brief aan werknemers gesê salarisse gaan waarskynlik nie betyds betaal word nie.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Woensdag al gewaarsku dat dit die geval is.

Die lugdiens het Vrydagmiddag met banke vergader en teen druktyd was dit nog nie bekend of die banke nog geld aan die SAL wou leen nie.

Intussen het Solidariteit ’n knuppel in die duiwehok gegooi met sy hofaansoek dat die SAL in sakeredding geplaas word.

Die vakbond het bevestig dat hy Donderdag hofstukke op Gor­dhan, Tito Mboweni, minister van finansies, en die SAL laat beteken het.

“Ek dink die ministers skarrel nou rond. Hulle het ’n groot probleem,” sê Louis Klopper, ’n sa­keredder van Coronado Consult­ing.

Klopper hanteer tans die sakeredding van verskeie maatskappye van die omstrede Gupta-familie.

“Ek kan nie sê wat ’n regter gaan besluit nie, maar ingevolge art. 4 en art. 22 van die Maatskappyewet kan ek nie sien hoe die aansoek van die hand gewys kan word nie,” sê hy.

Art. 4 stel dit duidelik dat ’n maatskappy te alle tye solvent en likied moet wees om in bedryf te mag wees.

Dit beteken dat die bates van die maatskappy sy laste moet oorskry en dat hy in staat sal wees om al sy skuld te betaal “wanneer dit in die gewone loop van sake verskuldig word”.

Art. 22 stel dit ook duidelik ’n maatskappy “moenie sy sake roekeloos, met growwe nalatigheid, met die bedoeling om enige persoon te bedrieg of vir enige bedrieglike doel bedryf word nie; of onder insolvente omstandighede handel dryf nie”.

Klopper sê in ag genome die stand van die SAL se finansies, waar hy self erken het dat hy vandeesmaand nie genoeg geld het om salarisse betyds te betaal nie, gaan dit moeilik wees om ’n regter te oortuig dat hy nié in sakeredding geplaas moet word nie.

Die SAL se skuld tot dusver beloop R9 miljard.

Klopper sê sou die SAL wel in sakeredding geplaas word, beteken dit die sakeredder moet binne tien dae besluit of die maatskappy gered kan word of nie.

“Daardie besluit moet geneem word oor wat die beste uitkoms sal wees,” sê hy.

“As ’n sakeredder nou by die SAL moet instap met al die skuld van miljarde rande en gehuurde vliegtuie – wat beteken hy besit nie daardie bates nie – weet ek darem nie,” sê hy.

Sou daar besluit word om wel die SAL te probeer red, sal die sakeredders absolute beheer oor die SAL neem.

“Hulle sal kontrakte kan hersien en tersyde stel. Hulle sal selfs direkteure kan afdank. Die wet laat hulle dit toe,” sê hy.

Klopper waarsku wel daar is ’n veel groter kwessie ter sprake.

“Belastingbetalers is ingevolge die wet meer as geregtig daarop om aansoek te doen dat ’n staatsonderneming in sakeredding geplaas word.

“Sou Solidariteit se aansoek suksesvol wees, is die vraag wie en/of wat dan sal besluit om soortgelyke aansoeke ten opsigte van ander insolvente staatsondernemings in te dien,” sê hy.

Dit sluit in Eskom, Denel, die SAUK en meer as 100 ander insolvente staatsondernemings.

Klopper sê ’n suksesvolle aansoek sal “geweldige reperkussies hê”.

Volgens die SAL behels die ooreenkoms die volgende:

  • ’n Verhoging van 5,9% terugwerkend tot 1 April vanjaar;
  • Die nuwe salarisse sal van Februarie 2020 betaal word mits geld daarvoor beskikbaar is;
  • Die terugbetaling vir die eerste ses maande (April tot September vanjaar) sal in Maart 2020 betaal word;
  • Die terugbetaling vir die oorblywende vier maande (Oktober tot Januarie 2020) sal in April 2020 betaal word;
  • Die verhoging en alle terugbetalings soos hierbo genoem, is onderhewig aan die beskikbaarheid van geld;
  • Die art. 189-proses (rasionalisasie) ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge waaroor vakbonde op 11 November ingelig is, sal tot 31 Januarie 2020 uitgestel word. Dit is net van toepassing op nie-bestuurslede;
  • Dié proses sal voortgaan ten opsigte van bestuurders. Die volgende vergadering is vir Maandag geskeduleer;
  • Die SAL en vakbonde sal owerhede nader om deel te neem aan die opleidingskema vir ontslag ingevolge die reëls van dié skema; en
  • ’n Taakspan sal aangestel word om vas te stel hoe geld beter bespaar kan word.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.