Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL Tegnies: Dís hoekom afleggings nodig is

SAL Tegnies is op die rand van bankrotskap en het ’n oormaat werknemers in ’n tyd dat sy sake opgedroog het.

Sy inkomste het met 83% getuimel weens die pandemie se uitwerking op die lugvaartbedryf.

Die maatskappy het in April aangekondig dat hy sy arbeidsmag met tot 60% gaan besnoei as deel van ’n art. 189-proses.

LEES OOK: SAL Tegnies gaan byna 60% van sy mense aflê

In die amptelike kennisgewing van die art. 189-proses, wat Netwerk24 gesien het, sit SAL Tegnies uiteen hoekom die afleggings nodig is.

Volgens Terrance Naidoo, waarnemende uitvoerende hoof, is SAL Tegnies se arbeidskoste eenvoudig te hoog. Teen Maart vanjaar was arbeidskoste as persentasie van inkomste 73%.

k

“Dit is baie hoog vergeleke met ons eweknieë in die bedryf,” skryf Naidoo.

“Hierdie verhouding het die afgelope ses jaar van 44% tot 73% verswak. Vir die volhoubaarheid van SAL Tegnies is die teikenverhouding tussen 25% en 35%.”

Die verhouding het ook nie net as gevolg van die maatskappy se dalende inkomste verswak nie.

Die tendens van stygende arbeidskoste duur al ses jaar en het reeds voor die pandemie ’n negatiewe uitwerking op die maatskappy se sake gehad.

Die maatskappy het tans 2 019 werknemers. 1 203 word geteiken in die art. 189-proses.

Naidoo skryf SAL Tegnies se bedryfskoste vergeleke met die totale inkomste was reeds in die boekjaar tot einde Maart 2020 buitensporig.

“Weens die massiewe afname in inkomste tesame met onvolhoubare diensvoorwaardes, het dit op ’n punt gekom dat die bedryfskoste die inkomste nou oorskry.”

SAL Tegnies se inkomste was voor die pandemie sowat R246 miljoen per maand teenoor R42,6 miljoen tans.

In die boekjaar tot einde Maart 2020 was die bedryfskoste R3,32 miljard, dus R267,6 miljoen per maand. Dit was dus toe reeds meer as R20 miljoen per maand méér as die inkomste.

Dié situasie kom al ’n geruime tyd aan.

SAL Tegnies se data wys dat die bedryfskoste sedert 2019 die inkomste oorskry. En toe kom die pandemie, wat sy inkomste dramaties laat tuimel het. Dit is nou net sowat 16% van wat dit was voor die pandemie.

Dit word toegeskryf aan die dramatiese afname in vlugte en die veel kleiner vlote vliegtuie van lugdienste.

SAL Tegnies se inkomste het met 83% getuimel. Foto: Fin24

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) was verantwoordelik vir 70% van SAL Tegnies se sake.

Waar hy eens meer as R150 miljoen per maand uit die SAL verdien het, het dit nou tot minder as R10 miljoen per maand geval vir die paar vragvlugte wat die SAL nog onderneem.

Ook ander lugdienste se behoefte aan SAL Tegnies se dienste het beduidend gekrimp.

Voor die pandemie het SAL Tegnies 86 vliegtuie van ses lugdienste gediens. Tans is dit net 34 omdat die SAL steeds nie vlieg nie, Comair sy vloot verklein het, Mango se toekoms onseker is en Air Namibië gelikwideer is.

Die afgelope ses jaar het SAL Tegnies ’n kumulatiewe verlies van meer as R1 miljard gely.

Naidoo sê tot die SAL se sakeredding was SAL Tegnies afhanklik van jaarlikse reddingsboeie van die SAL af.

Sedert die sakereddingsproses in Desember 2019 begin het, moes SAL Tegnies egter op sy eie bene staan. Hy kan nie meer sy bedryfskoste regverdig nie.

Die afleggings begin na verwagting in Junie.

SAL Tegnies is een van die SAL-filiale wat nog wag op sy deel van die R2,7 miljard wat vir filiale geoormerk is uit die R10,5 miljard-reddingsboei wat aan die SAL toegestaan is.

Hierdie geld is veronderstel om die filiale weer op die been te bring namate die SAL weer later vanjaar in bedryf kom.

Maar die uitbetaling van die geld sloer aangesien die parlement dit as deel van ’n spesiale bewilligingswetsontwerp moet goedkeur.

Volgens die parlementêre rooster sal die portefeuljekomitee oor bewilligings Vrydag oor die spesiale bewilligingswetsontwerp vergader.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.