Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL trek aanbod vir 6,5% terug; vakbonde boos

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het Dinsdag om middernag ’n belowende aanbod vir salarisverhogings teruggetrek wat vakbonde sê die verwoestende staking in die lugvaartbedryf tot ’n einde sou gebring het.

Die metaalwerkersvakbond, Numsa, en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) sê die terugtrek van die aanbod gaan net hul plan versnel om die ganse lugvaartbedryf lam te lê.

sal
Die Suid-Afrikaanse Lugdiens sê hy gaan sukkel om verhogings van 5,9% te betaal, wat nog te sê 8%.

Volgens Phakamile Hlubi-Majola, Numsa-woordvoerder, was die aanbod wat hulle bereid was om te aanvaar, ’n verhoging van 6,5%.

Dis teenoor die 8% wat hulle tot dusver geëis het en die SAL se vorige aanbod van 5,9%.

Dinsdag se vergadering tussen die lugdiens en vakbonde was “moeilik”, maar Hlubi-Majola sê die 6,5%-aanbod was aanvaarbaar. Dis toe egter onverwags ná ure se onderhandelinge teruggetrek, en die lugdiens het toe gesê hy moet hou by sy aanvanklike aanbod.

“Hulle het ons verraai,” sê Hlubi-Majola.

Die twee vakbonde staak al sedert verlede Vrydag.

Vergaderings duur Woensdag voort en al is Hlubi-Majola hoopvol dat vordering gemaak kan word, sê sy ná Dinsdagaand kan hulle nie meer die SAL se bestuur vertrou nie.

’n Mediakonferensie was veronderstel om Woensdagoggend buite die SAL se Airways Park in Kempton Park plaas te vind. Dis egter onbepaald uitgestel in afwagting op verwikkelinge uit die voortdurende onderhandelinge, wat tans agter geslote deure plaasvind.

Numsa het teenoor Netwerk24 bevestig dat “sekondêre stakings” by nog SAL-filiale en ander lugdienste nou van stapel gestuur sal word.

Air Chefs het reeds ’n stakingskennisgewing ontvang, en werkers by Comair (wat British Airways en Kulula bedryf) het ’n stakingsertifikaat gereed.

Een rede waarom Numsa en Sacca bereid was om vir ’n 6,5%-verhoging te skik, was omdat dit gepaard gegaan het met ’n aanbod om ’n taakspan by die SAL op die been te bring wat alle kontrakte en verkrygings sou behartig.

Volgens Hlubi-Majola was dit sentraal tot die aanbod, en is dit ook sonder waarskuwing teruggetrek.

Die vakbond reken die lugdiens word deur bankrotskap in die gesig gestaar of hy nou verhogings aan sy werknemers toestaan of nié.

“Talle forensiese ondersoeke wys daarop dat dit die meer as R25 miljard in verkrygingskontrakte is waarmee die SAL leeggetap word, en dis korrupsie wat dit dryf.”

Die taakspan sou dus volgens Numsa die lugdiens se korrupsie kon hokslaan. “Ons staak om die lugdiens van homself te red,” sê Hlubi-Majola.

As daar nie ’n aanbod is wat wys die lugdiens sal verander nie, sal Numsa nie sy staking stopsit nie, sê sy.

Honderde vakbondlede het Woensdagoggend voor die SAL se hoofkantoor in Kempton Park betoog.

Lede van die vakverbond Saftu, waaraan Numsa behoort, is ook teenwoordig.

Tussen 20 en 40 polisiebeamptes en talle sekerheidsvoertuie omring die perseel.

Die SAL het Dinsdag op sy eie nuuskonferensie sy mistroostige finansiële posisie uitgestippel en sê lenings sal nodig wees om verhogings te betaal en daarvoor moet die staat die waarborg bied. Onderhandelinge met banke en die tesourie duur voort.

sal
Lede van die vakbond Numsa betoog by die Suid-Afrikaanse Lugdiens te midde van ’n staking van sowat 2 000 werknemers by die lugdiens. Foto: William Horne
Meer oor:  Sacca  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Numsa  |  Staatsondernemings  |  Lugdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.