Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: Vakbonde dreig klaar met hofsake
Vakbonde dreig reeds met regsaksie sou daar besluit word om die SAL te likwideer. Foto: Twitter

Die vergadering met krediteure oor die toekoms van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het nog nie eens begin nie en vakbonde dreig klaar met regsoptrede.

Lede van Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) het vroeg Vrydagoggend voor die SAL se hoofkantoor in Kempton Park begin betoog teen die staat wat steeds nie geld gegee het om die SAL te red nie.

Volgens Heidi Giokos, joernalis van eNCA, het die vakbonde reeds ’n brief aan die kantoor van die president, die departement van openbare ondernemings, die tesourie en die speaker van die Nasionale Vergadering gestuur waarin hulle sê hulle sal hof toe gaan sou daar beslis word die SAL en sy filiaal SA Express moet gelikwideer word.

Phakamile Hlubi-Majola, woordvoerder van Numsa, sê in ’n stemnota die brief lig al die partye ook in dat die staatsonderneming nie gelikwideer kan word as die parlement dit nie goedkeur nie.

“Ons neem dié stap omdat die regering nie die nodige geld gegee het om die SAL en SA Express te red nie, en nie seker gemaak het albei is lewensvatbaar en volhoubaar nie.

“Die regering het ’n regsplig om die voortbestaan van alle staatsondernemings te verseker – veral die SAL en SA Express,” sê sy.

Hlubi-Majola sê hulle het die regering tot Vrydag gegee om amptelik te onderneem om die voortbestaan van die twee lugdienste te verseker.

Die reddingsproses en likwidasie van SA Express is onafhanklik van dié van die SAL.

SA Express is reeds voorlopig gelikwideer.

Les Matuson en Siviwe Dongwana, die sakeredders wat by die SAL aangestel is, het Donderdag bevestig ’n vergadering word Vrydag gehou om die uitvoerbaarheid van die reddingsplan van die lugdiens te bespreek.

Dit volg juis nadat daar teen Donderdag geen teken was van die R10,3 miljard wat die sakeredders nodig het vir die SAL nie.

Sam Mkokeli, woordvoerder van die departement van openbare ondernemings, het vroeër Donderdag vir Netwerk24 na die sakeredders verwys toe hy gevra is of daar al enige nuus is oor die geld vir die SAL.

Die departement het op 10 September in ’n verklaring gesê dat hy steeds hard werk om geld vir die SAL “te mobiliseer”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.