Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL verdedig besteding aan skaars vaardighede

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het die aanstelling van konsultante en nuwe bestuurslede teen relatief hoë salarisse verdedig deur te sê die lugdiens se spesialisvaardighede is uitgeput.

Vuyani Jarana, SAL-hoof, met ’n vorige verskyning in die parlement. Foto: Daily Sun

Intussen blyk dit Vuyani Jarana, uitvoerende hoof van die SAL, verdien tans minder by die SAL as wat hy by Vodacom verdien het waar hy voorheen sedert 1995 in diens was.

Jarana verdien R6,7 miljoen per jaar by die SAL, het Mail&Guardian die naweek berig.

As dit egter vergelyk word met die syfers uit Vodacom se 2017-jaarverslag waar Jarana voorheen as hoof van die selfoongroep se sake-eenheid vir ondernemings gewerk het, verdien hy tans minder as voorheen.

Hy het in 2017 ’n basiese salaris van R4,5 miljoen by Vodacom verdien, plus byvoordele en ’n prestasiebonus van meer as R3,5 miljoen, wat sy totale vergoeding vir die jaar op meer as R8 miljoen te staan gebring het.

Jarana het verlede week in die parlement verduidelik dit is baie moeilik om mense van die regte gehalte na die sukkelende staatslugdiens te lok, weens die negatiewe persepsies wat aan die handelsmerk gekoppel word.

Maar intussen ondervind die SAL kritieke gapings in vaardighede wat strek van finansies, inkomstebestuur, inligtingstegnologie tot voorsieningskettingbestuur.

Jarana het in ’n aanbieding aan die parlement se staande komitee oor finansies gesê hy wil die gaping oorbrug deur vaardighede van betroubare maatskappye in te kontrakteer, korttermyn-opdragte aan hoogs vaardige individue soos afgetrede personeellede toe te ken, en om mense met deurslaggewende vaardighede te werf om by die SAL te werk.

Jarana, wat self geen lugdiens-ervaring het nie, sê die beperkte bestuursvermoë is ’n groot risiko vir die inwerkingstelling van die lugdiens se omdraaiplan.

Die SAL moet nog ’n hoofbestuurder vir sy lugvragafdeling aanstel, maar het tussentydse aanstellings gedoen in die poste van regsbeampte, risikobeampte en beampte vir regulatoriese beleid.

Permanente aanstellings is gedoen vir die inligtingshoof, belastinghoof en uitvoerende hoof van die spyseniersafdeling, Airchefs. ’n Handelshoof is in Februarie aangestel, en ’n verkrygingsbeampte is ook onlangs aangestel. Jarana sê die SAL se IT-stelsel is verouderd en onvoldoende. Die SAL het ook ’n finansiële adviseur aangestel.

Dit kom te midde van die onthullings deur Mail&Guardian dat die SAL Deutsche Bank aangestel het teen ’n bedrag van R25 miljoen om sy finansies te ontleed en sy skuld te herstruktureer. Die SAL het R9,2 miljard se skuld wat teen Maart volgende jaar terugbetaal moet word.

Mail&Guardian berig die SAL het Mpati Qofa as regsbeampte aangestel teen ’n salaris van R4,2 miljoen per jaar. Peter Davies is as hoof van herstrukturering aangestel teen R6 miljoen per jaar en Thabang Motsohi is as beampte vir regulatoriese beleid teen R4 miljoen per jaar aangestel.

Robert Newsome is as risikobeampte aangestel teen R2,5 miljoen per jaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.