Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL verloor glo meer as R10 mjd. in afgelope 2 jaar
Vliegtuie van die Suid-Afrikaanse Lugdiens staan op 'n lughawe. Foto: Argief

Inligting oor die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se werklike finansiële posisie en die implikasies daarvan het vandeesweek begin deursyfer, ondanks die feit dat hy nou nog nie die afgelope twee boekjare se finansiële state kon voorlê nie.

Dokumente wat aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge gestuur is, maar waarin Reuters insae gekry het, wys die SAL het in die afgelope twee boekjare verliese van meer as R10,4 miljard gely.

Sy syfers vir die boekjaar tot einde Maart 2018 wys ’n verlies van R5,4 miljard, en dit wys dat sy laste sy bates met sowat R13 miljard oorskry.

’n Afsonderlike dokument wys die SAL het in die boekjaar tot einde Maart 2019 ’n verdere verlies van meer as R5 miljard gely.

Volgens Alf Lees, DA-lid van die komitee, laat die huidige SAL-direksie in effek toe dat die lugdiens roekeloos handel dryf, want hy kan nie sy skuld betaal soos wat dit betaalbaar word nie. Dit is ’n oortreding van artikel 22 van die Maatskappyewet. Die SAL oortree terselfdertyd artikel 55 van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies omdat die direksie weier om die afgelope twee boekjare se finansiële state te publiseer.

Die direksie verduidelik in ’n brief aan die komitee dat hy nie seker kan wees van die SAL se status as lopende saak nie omdat die regering so wisselvallig is wat betref geldelike steun aan die lugdiens.

Banke is nie meer bereid om hul lenings aan die SAL te verleng nie, selfs al is daar staatswaarborge, skryf die direksie aan die komitee.

Dit sal daarom roekeloos wees vir die maatskappy om voort te gaan om handel te dryf.
Direksie van die SAL

Die direksie het aanvanklik regsmenings van die prokureursfirma Bowmans gekry op grond waarvan die direksie besluit het om die lugdiens te laat voortgaan om sake te doen, al is daar onsekerheid oor die SAL se status as lopende saak. In die brief aan die komitee waarsku die direksie egter dat hy nie nou meer op die Bowmans-regsmening kan steun nie weens die onsekerheid of die staat nog ’n reddingsboei na die SAL gaan gooi en of hy ’n gepaste waarborg vir banklenings sal verskaf of nie.

“Dit sal daarom roekeloos wees vir die maatskappy om voort te gaan om handel te dryf,” skryf die direksie, wat volgens Lees ’n erkenning van hulle is dat hulle op die oomblik wel die lugdiens toelaat om roekeloos handel te dryf.

Volgens die direksie is die vertraging met die twee boekjare se syfers te wyte daaraan dat die SAL nie die ouditeur-generaal (OG) kan oortuig dat hy ’n lopende saak is nie. Hy kan net sy status as lopende saak bevestig as die staat ekstra bedryfskapitaal gee of staatswaarborge gee sodat hy by die banke kan geld leen, en die regering het dit nog nie gedoen nie.

Die SAL is besorg oor die impak op sy sake en likiditeit as die OG weier om ’n ouditopinie te gee. Die OG is gevra om ’n voorlopige opinie te gee sodat die SAL die regs- en kontantvloei-implikasies daarvan kan oorweeg, maar die OG is nie gemaklik daarmee nie, skryf die direksie.

Die onlangse inkonsekwente boodskappe vanuit regeringskringe oor steun aan die SAL het groot onsekerheid geskep, sê die SAL-direksie.

Volgens die direksie het die OG begin met die oudit van sy state vir die boekjaar tot einde Maart 2019, maar het onttrek weens sy twyfel oor die SAL as lopende saak. Die SAL het toe voortgegaan om die state op te stel asof hy wel ’n lopende saak is, maar die direksie kan dit nie afteken nie en daarom kan die state ook nie vir oudit ingedien word nie.

Intussen het die departement van openbare ondernemings bloot terugverwys na sy verklaring die naweek dat die SAL deur ’n radikale herstruktureringsproses sal gaan, en dat verskeie opsies ondersoek word. Daar was ook intense gesprekke met banke om nodige geld te kry om die SAL oor die volgende paar maande aan die gang te hou.

Meer oor:  Da  |  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Alf Lees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.