Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL-vlieëniers dreig om te staak oor nuwe baas

Vlieëniers van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) oorweeg dit vir die eerste keer in die 80-jarige bestaan van hul vakbond om te staak.

Zukisa Ramasia, wat as die SAL se uitvoerende hoof sal waarneem nadat Vuyani Jarana onverwags bedank het. Foto: Siphiwe Sibeko

Kapt. Grant Back, voorsitter van die Vlieëniersvereniging van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (Saapa), sê die vlieëniers is diep bekommerd oor die aanstelling van Zukisa (Zuks) Ramasia, bedryfshoof, as waarnemende uitvoerende hoof ná die onlangse bedanking van Vuyani Jarana.

Back sê in ’n verklaring Ramasia “het nie die toepaslike ervaring en finansiële insig om ’n groot lugdiens suksesvol te bestuur nie”.

“Hoewel die SAL ’n mate van vordering onder Jarana gemaak het, bly van die mees kritieke probleme steeds onopgelos. As gevolg daarvan is ons lugdiens bykans disfunksioneel,” lui die verslag.

“Die eenvoudige waarheid is dat die SAL nie sal oorleef tensy kritieke bedryfs- en tegniese tekortkominge onmiddellik deur ’n bevoegde span leiers getakel word nie.”

Martin Kingston, nie-uitvoerende direkteur van die SAL, het voorverlede week op ’n nuuskonferensie gesê die SAL het voor einde R4 miljard nodig om skuld te delg en rekeninge te betaal. Die lugdiens het ook langtermynskuld van R21,7 miljard.

Back sê ’n deel van die probleem is dat baie lede van die SAL se bestaande bestuurspan aangestel is vóór Jarana se aanstelling.

“Dis dieselfde span wat die SAL in sy huidige onhoudbare posisie in genavigeer het.”

Saapa het in ’n brief aan die direksie hul ongelukkigheid met Ramasia se aanstelling te kenne gegee en hulle vergader later die week met mekaar.

Ramasia moet in haar rol as bedryfshoof nou saam met die vlieëniers werk.

Meer oor Zukisa Ramasia
Ramasia het ’n honneursgraad in mensehulpbronontwikkeling van die Universiteit van Johannesburg, ’n BA in Engels en sielkunde aan Vista-universiteit en ’n onderwysdiploma van die Universiteit van Transkei. Sy was voorheen ’n nie-uitvoerende direkteur verantwoordelik vir die koördinering van lugvaartdienste by die O.R. Tambo- Internasionale Lughawe.

Saapa is die derde vakbond wat beswaar aanteken teen haar aanstelling nadat die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) en Numsa ook ’n beroep op Jarana gedoen het om aan te bly. Hulle het verlede week by lughawens landwyd betoog.

Jarana, wat voorheen ’n senior pos by Vodacom beklee het, het bedank omdat hy teenstand gekry het teen die omkeerplan wat hy in werking wou stel. Hy was sedert 1 November 2017 die SAL se uitvoerende hoof en sal aanbly tot 31 Augustus vanjaar om met die oorgang te help.

Back sê hulle is besig om die mening van lede in te win oor die moontlikheid van ’n staking om veranderinge op te dwing. Dit sal die eerste staking van SAL-vlieëniers nóg wees. Die SAL bestaan al 85 jaar en die vlieëniersvereniging 80 jaar.

Vuyani Jarana, wat voorverlede week as uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Lugdiens bedank het. Foto: Argief

“Die SAL-vlieëniers sal nie terugsit terwyl die sirkel van agteruitgang toegelaat word om voort te duur nie. Soos ander vakbonde, is ons gedwing om ’n streep in die sand te trek en voor te berei om tot aksie oor te gaan. Enige optrede waarop ons besluit, sal nie ligtelik geneem word nie.

“Ons doelwit is nie om die lugdiens se ellende te vererger nie – dis om die verdere vermorsing van belastingbetalers se geld te beëindig en, uiteindelik, die SAL op die pad na herstel te plaas.”

Back sê hulle het dit duidelik aan die direksie gestel dat die vereniging nie sal toelaat dat vlieëniers sondebokke gemaak word, soos gebeur het in die era waarin Dudu Myeni voorsitter was nie.

Waarom het Vuyani Jarana bedank?

Jarana se bedankingsbrief is aan die media uitgelek. Daarin vaar hy uit teen die regering se gebrekkige verbintenis om die SAL finansieel te ondersteun.

“Hoewel die regering in die 2018-’19-boekjaar finansiering van R5 miljard gegee het, is die grootste deel daarvan gebruik om krediteure tot einde Maart 2018 te betaal.

“Ons was nie in staat om verdere verbintenisse van die regering te kry nie, wat dit baie moeilik maak om op die uitvoering van strategie te fokus.

“Ek bestee die meeste van my tyd om probleme met likiditeit en solvensie te behartig. Die gebrek aan verbintenis om die SAL te finansier, ondermyn sistematies die inwerkingstelling van die strategie, wat dit al hoe moeiliker maak om te slaag.”

Jarana het ook te velde getrek teen rompslomp, wat die neem van vinnige besluite onmoontlik maak.

Die SAL sê hy gaan die uitlek van die brief ondersoek omdat dit dui op ’n kultuur van dislojaliteit by die lugdiens.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.