Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL-vlieëniers gaan staak

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) Vlieëniersvereniging (Saapa) sê hulle het “geen ander keuse meer” as om te staak nie.

Saapa verteenwoordig 89% van alle SAL-vlieëniers.

Dit sal die eerste staking van die vlieëniers wees in die 50-jarige bestaan van die vakbond.

Saapa sê Dinsdag in ’n verklaring dat hulle nou amptelik die SAL se sakeredders 48 uur kennis gegee het oor hul voorneme om te staak.

Daar het 98,77% van sy lede ten gunste van die staking gestem.

Saapa verteenwoordig 89% van alle SAL-vlieëniers en beding namens alle vlieëniers by die SAL.

Saapa is nie tevrede met die skeidingspakkette wat hulle aangebied word nie.

Die sakeredders het dit al duidelik gemaak dat ’n art. 189-afleggingsproses sal moet gebeur.

Maar een van die hoofdoeleindes van die afleggings is om ontslae te raak van die huidige regulatoriese ooreenkoms tussen die vlieëniers en die lugdiens.

Volgens die sakeredders is dié ooreenkoms doodeenvoudig rampspoedig vir die volhoubaarheid van die “nuwe” lugdiens.

’n Nuwe ooreenkoms en diensvoorwaardes moet dus op ooreengekom word, maar Saapa moet eers aanvaar dat die huidige ooreenkoms gekanselleer moet word.

Saapa het in Oktober ingestem om die ooreenkoms te kanselleer, maar wou beter skeidingspakkette hê.

Fin24 berig dat die sakeredders beraam die gunstiger skeidingspakkette sou beteken dat die vlieëniers saam ’n ekstra R300 miljoen sou moes kry.

“R300 miljoen is buite die bereik van die bestaande befondsing,” sê die sakeredders.

Maar Saapa hou vol hy word onregverdig behandel.

Saapa het egter al keer op keer hofsake teen die SAL verloor in sy stryd teen die sakeredders.

Die departement van openbare ondernemings het al gesê dat die vlieëniers die sakereddingsproses as ’n gyselaar hou vir meer geld.

Saapa sê egter dis die politieke inmenging in die sakereddingsproses wat die SAL uit die lug uit hou.

Hy sê dis nie hul vergoeding en eise wat die SAL kniehalter nie, dis eerder jare se staatskaping en die wanbestuur van mense soos Dudu Myeni, voormalige voorsitter, wat die lugdiens nie-lewensvatbaar gemaak het.

Die vlieëniers is in Desember uitgesluit uit die kantore van die SAL in Johannesburg in ’n poging om hulle te dwing na die onderhandelingstafel.

Intussen word sommige vlieëniers opgeroep vir beperkte diens, en Saapa is kwaad daaroor dat sommige vlieëniers nie uitgesluit bly nie.

“Intussen het die sakeredders die betaling van nog vier maande se terugbetaling goedgekeur aan alle SAL-personeel, behalwe die vlieëniers, aan wie hulle nog betalings verskuldig is vanaf 2019. Dit is op sy ergste vooroordeel, magsmisbruik en kwaadwilligheid,” sê Saapa.

Saapa-lede is in Maart 2019 laas betaal – die laaste keer toe die lugdiens nog gevlieg het.

Saapa verwys ook na 2019 omdat hulle nie hul bonusse vir 2019 ontvang het nie.

Volgens Saapa is hulle kontraktueel geregtig op dié 13de salarisbetalings, al is die lugdiens op 5 Desember 2019 in sakeredding geplaas.

Alle personeel wat reeds skeidingspakkette aanvaar het, het al hul agterstallige salarisse, ingesluit bonusse, ontvang.

Dit bly onduidelik wat ’n staking kan bereik terwyl die lugdiens in ieder geval nie bedryf word nie.

Die sakeredders se aanbod verstryk egter sodra hulle eersdaags verdaag en oorgee aan die nuwe bestuur van die SAL.

Of Saapa wag vir beter aanbiedings van die nuwe bestuur, is onduidelik.

Die sakeredders wou nie Woensdag kommentaar lewer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.