Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: Vlieëniers kon al amper R1 mjd. ontvang het

Indien die stakende lede van die Suid-Afrikaanse Lugdiens se Vlieëniersvereniging (Saapa) die sakeredders van die lugdiens se jongste en finale aanbod aanvaar het, sou hulle teen dié tyd al bykans R1 miljard ontvang het, wys uitgelekte dokumente.

Airways Park, die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se hoofkantoor in Johannesburg. Foto: Gallo Images

Saapa-lede sou verlede week Vrydag R704 miljoen ontvang het en sou hierdie week ’n bykomende R182 miljoen ontvang het, as die vakbond namens lede bloot die ooreenkoms aanvaar het.

Die sakeredders sê Vrydag in ’n e-pos aan Saapa wat Netwerk24 gesien het, dat dit “onlogies” is vir hulle om verder te sloer met die aanvaarding van die ooreenkoms wat die meeste van hul eise nakom.

Saapa sou Vrydag R314 miljoen vir onbetaalde salarisse vir die periode van April tot November 2020 ontvang het.

Boonop sou die sakeredders R68 miljoen uitbetaal het met betrekking tot die ooreengekome bedrag om vir die vlieëniers kennis te gee van hul afdanking.

Uitstaande verlofdae ter waarde van R184 miljoen sou ook uitbetaal geword het, asook R137 miljoen vir die twee 13de tjeks wat nog aan die vlieëniers verskuldig is.

Die sakeredders se finale aanbod aan Saapa van verlede week dui ook aan dat ex gratia-betalings oor drie jaar aan vlieëniers betaal sou word.

Die sakeredders het ook ooreengestem om vlieëniers met betrekking tot hul ou vergoeding (heelwat meer as die nuwe voorgestelde pakkette) vir hul skeidingspakkette te vergoed.

Die verskil tussen die ou vergoeding en die nuwe vergoeding sal egter ook eers oor ’n tydperk van drie jaar uitbetaal word.

Die eerste sarsie van hierdie twee betalings ter waarde van R71 miljoen sou in Augustus betaal word as die aanbod aanvaar was.

Maar al is die aanbod al gemaak op 1 April, het Saapa nog glad nie gereageer nie.

Saapa-lede is al sedert 18 Desember 2020 uitgesluit uit die SAL se kantore en persele in ’n poging deur die sakeredders om hulle te dwing om die ooreenkoms te aanvaar sonder dat verdere agterstallige vergoeding opbou.

Saapa het op sy beurt ’n staking van stapel gestuur om te verhoed dat die lugdiens selektief sekere vlieëniers toelaat om opleiding te doen en beperkte vlugte te vlieg.

Saapa wil hê dat die lugdiens lede dadelik en voor die sluiting van die ooreenkoms 13de tjeks asook vergoeding vir Desember (toe die vlieëniers reeds uitgesluit was) betaal.

Die sakeredders sê dit maak nie sin nie, want die 13de tjeks se bedrag sou Vrydag uitbetaal geword het as die ooreenkoms net gesluit word soos Saapa sê hy beplan om te doen, maar eers nadat hy vergoed word.

“Dit kan nie in die belang van vlieëniers wees om die kompromislose volle verlof en ex gratia-betalings in gevaar te stel nie,” sê die sakeredders. As die sakeredders hul taak voltooi voordat die aanbod aanvaar is, verval dit.

“Die tydsberekening van die betalings maak die standpunt wat Saapa inneem in die omstandighede nog meer onlogies en kan ’n mens slegs laat glo dat dit nie Saapa se bedoeling is om ’n skikking te bereik nie en die bogenoemde bedrae aan die vlieëniers betaalbaar te hê nie.

“Dit is nog erger as ons te make het met die realiteit dat die ex gratia-betalings en die kompromislose volle verlof nie meer beskikbaar sal wees sodra die sakereddingsproses beëindig is nie.”

Meer oor:  Saapa  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Aanbod  |  Lugdienste  |  Vakbonde  |  Staatsondernemings  |  Sakeredding  |  Afdankings  |  Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.