Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL-vlieëniers ‘kyk net na hulself’, kla regering

Die vlieëniers van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) vra voordele wat baie meer kos en finansieel lonender vir hulself is as vir enige ander SAL-werknemers, sê die departement van openbare ondernemings.

Die departement en die SAL-vlieëniersvereniging (Saapa) is al heelweek haaks oor die vrywillige skeidingspakkette wat aan die lugdiens se werknemers aangebied word.

Die departement het vroeër gekla Saapa het nog geen aanduiding gegee of hy – soos al die ander SAL-vakbonde – die pakkette gaan aanvaar nie. Saapa het teruggekap dat sy lede dit wel oorweeg.

Die SAL het tans 600 vlieëniers in sy diens, oftewel 13% van sy arbeidsmag. Tog gaan 45% van die lugdiens se salarisrekening na hulle.

Van die 600 vlieëniers word 170 as “senior” beskryf. Die laagste vergoedingspakket wat vlieëniers in dié groep verdien, beloop R3,6 miljoen per jaar, byvoordele uitgesluit.

Die departement sê Vrydag in ’n verklaring dat R1 miljard van die R2,2 miljard wat vir skeidingspakkette begroot word, aan vlieëniers betaal sal word.

Die departement het in ’n vorige verklaring gesê dat vlieëniers vrywillige skeidingspakkette van R1,96 miljoen elk aangebied is.

LEES OOK: Ja vir SAL-plan - wat nóg R55,8 m. kos

Die departement sê hoewel Saapa sy eie voorstel ter tafel gelê het, kan die lugdiens dit nie bekostig nie.

Saapa se voorstel is glo:

  • Lê 1 548 werknemers af en behou 3 099. Hiervan sal 2 000 werk wanneer die “nuwe” lugdiens aan die gang gekry word, 435 sal tydelik uit diens gestel word, terwyl nog 664 wel uit diens gestel sal word, maar teruggeroep kan word indien nodig. Die sakeredders se jongste voorstel is dat net 1 000 werknemers behou word, terwyl ’n verdere 1 000 vir ’n jaar in diens bly waartydens hulle aan ’n vaardigheidsprogram sal deelneem.
  • Werknemers word op ’n deeltydse basis aangestel en werk net 75% van hul huidige werkure. Salarisse word dienooreenkomstig aangepas.
  • Salarisse van vlieëniers word met 20% verminder en dié van ander werknemers met 10%.
  • Geleenthede word aan jonger en veral voorheen benadeelde vlieëniers gegee om hul loopbaan te bevorder.
  • ’n Beter skeidingspakket word aan vlieëniers aangebied om hulle aan te spoor om dit te aanvaar.

Saapa se plan beteken dat R1,986 miljard aan pakkette bestee sal word.

Hoewel dit minder is as die R2,2 miljard wat die sakeredders voorstel, het ’n woordvoerder van die departement aan Netwerk24 gesê die SAL kan eenvoudig nie die salarisse bekostig vir die groter getal werknemers wat hul werk ingevolge die Saapa-plan sou behou nie.

“Saapa poog om ’n veel groter aantal werknemers te behou as wat die lugdiens kan bekostig.

“Dit is teenstrydig met die verklaarde doelwit om ’n nuwe, herstruktureerde, lewensvatbare en mededingende lugdiens te verseker wat moet voortvloei uit ’n sakereddingsproses,” lui die departement se verklaring.

“Die voorstel plaas die skaars finansiële hulpbronne in die hande van ’n paar, met die besondere klem op vlieëniers, onder die voorwendsel dat werkgeleenthede gered word.”

Die departement sê as die Saapa-plan aanvaar word, sou dit beteken dat “die lugdiens redelik gou terug sou wees op ’n plek waar nóg geld nodig sou wees sodat hy weer kan herstruktureer”.

Die departement sê verder dit is duidelik dat Saapa vergeet dat die diensvoorwaardes waaronder die vlieëniers oorspronklik aangestel is, gegrond was op ’n lugdiens wat internasionaal mededingend en winsgewend is.

“Die werklikheid is dat die SAL in sy huidige vorm finansieel onvolhoubaar, insolvent en in sakeredding is.”

Die departement herinner daaraan dat krediteure op 14 Julie stem oor of hulle die reddingsplan vir die lugdiens aanvaar of nie.

Hy raai hulle sterk aan om dit wel te doen. Indien nié, sê hy, sal die lugdiens gelikwideer moet word.

Saapa is genader om kommentaar.

Meer oor:  Saapa  |  Suid-Afriikaanse Lugdiens  |  Inperking  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Lugdienste  |  Koronavirus  |  Sakeredding  |  Vlak 3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.