Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL-vlieëniers loop weer bloutjie in hof

Vlieëniers van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het vir die soveelste keer ’n bloutjie in die hof geloop.

Die arbeidshof het Woensdag die SAL-Vlieëniersvereniging (Saapa) se aansoek om verlof tot appèl met koste van die hand gewys.

Meer as ’n jaar nadat die Suid-Afrikaanse Lugdiens in sakeredding geplaas is, vlieg hy steeds nie. Foto: Twitter

Saapa het probeer om die hofbeslissing te betwis wat bevind het hul uitsluiting by die SAL op 18 Desember was wettig. Ingevolge die uitsluiting verdien hulle geen salaris nie.

Volgens die lugdiens se sakeredders, Siviwe Dongwana en Les Matuson, bevestig regter André van Niekerk se weiering om ’n appèl toe te laat, hul siening dat die vakbonde die hofproses “misbruik”.

Van Niekerk sê dis onwaarskynlik dat ’n ander hof tot ’n ander gevolgtrekking sal kom. Saapa het geen nuwe argument ter tafel gelê nie.

Die sakeredders beskou die kostebevel as ongewoon in ’n arbeidsdispuut en verdere bevestiging dat Saapa se aansoek geen meriete gehad het nie.

“Dit stuur ’n sterk boodskap aan litigante, veral vakbonde, dat regsaksie sonder meriete nie geduld sal word nie. Net omdat werknemers en vakbonde die reg tot toegang tot die howe het, mag hulle nie toegelaat word om die reg te misbruik nie.”

Dongwana sê hulle hoop steeds ’n skikking sal bereik kan word. Dis in die beste belang van vlieëniers dat dit gou gebeur.

Die probleem wentel om die feit dat vlieëniers nuwe diensooreenkomste moet onderteken, teen heelwat laer salarisse en byvoordele as voorheen, om vir die oorblywende poste by die SAL in aanmerking te kom.

Die vlieëniers het geweier, selfs ná omvattende onderhandeling en bemiddeling. Dis wat tot die uitsluiting aanleiding gegee het.

Saapa verteenwoordig 96% van SAL-vlieëniers.

Intussen beweer Saapa daar word gediskrimineer teen sy lede met die uitbetaling van agterstallige dertiende tjeks. Na bewering is vlieëniers wat in Saapa se bestuur gedien het of aan die vakbond behoort, nie hul dertiende tjeks betaal nie, terwyl vlieëniers wat nie aan die vakbond behoort nie of afgetree het as onaktiewe lede wel betaal is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.