SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL vs Solidariteit: ‘Aansoek kan wye gevolge hê’
Louis KlopperFoto: Elvira Wood

Die kat is in die duiwehok.

Dit was die eerste reaksie van Louis Klopper, sakeredder by Coronado Consulting, oor die vakbond Solidariteit se besluit om ’n aansoek te bring dat die hof die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) in sakeredding plaas.

Klopper hanteer tans die sakeredding van verskeie van die omstrede Gupta-familie se maatskappye.

Solidariteit het bevestig dat hy Donderdag hofstukke op Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Tito Mboweni, minister van finansies, en die SAL bedien het.

LEES OOK: SAL kan nie reg ‘gestaak of gestaat’ word nie – Solidariteit

“Ek dink die ministers skarrel nou rond. Hulle het ’n groot probleem,” het Klopper in ’n telefoniese onderhoud met Netwerk24 gesê.

“Ek kan nie sê wat ’n regter gaan besluit nie, maar luidens art. 4 en art. 22 van die Maatskappyewet, kan ek nie sien hoe die aansoek van die hand gewys kan word nie,” sê hy.

Art. 4 van die wet stel dit duidelik dat ’n maatskappy te alle tye solvent en likied moet wees om in bedryf te mag wees.

Dit beteken dat die bates van die maatskappy sy laste moet oorskry en dat hy in staat sal wees om al sy skuld te betaal “wanneer hulle in die gewone loop van sake verskuldig word”.

Art. 22 stel dit weer duidelik ’n maatskappy “moet nie sy sake roekeloos, met growwe nalatigheid, met die bedoeling om enige persoon te bedrieg of vir enige bedrieglike doel bedryf word nie; of onder insolvente omstandighede handel dryf nie”.

Klopper sê gegee die stand van die SAL se finansies, waar hy in November self erken hy nie genoeg geld het om salarisse betyds te betaal nie, gaan dit moeilik wees om ’n regter te oortuig dat hy nié in sakeredding geplaas moet word nie.

Die SAL se skuld tot dusver beloop R9 miljard.

Klopper bevestig dat sou die SAL wel in sakeredding geplaas word, beteken dit die sakeredder moet binne tien dae besluit of die maatskappy gered kan word of nie.

“Daardie besluit moet geneem word oor wat die beste uitkoms sal wees,” sê hy.

“As ’n sakeredder nou by die SAL moet instap met al die skuld van miljarde rand en gehuurde vliegtuie – wat beteken hy besit nie daardie bates nie – weet ek darem nie,” sê hy.

Die staking by die SAL is verby. Foto: Bloomberg

Sou daar besluit word om wel die SAL te probeer red, sal die sakeredders absolute beheer oor die SAL neem.

“Hulle sal kontrakte kan hersien en tersyde skuif. Hulle sal selfs direkteure kan afdank. Die wet laat hulle dit toe,” sê hy.

Klopper waarsku egter wat Solidariteit se aansoek betref, moet ’n veel groter kwessie in ag geneem word.

“Belastingbetalers is ingevolge die wet meer as geregtig om aansoek te doen dat ’n staatsonderneming in sakeredding geplaas word.

“Sou Solidariteit se aansoek suksesvol wees, is dit ’n ope vraag oor wie en/of wat dan sal besluit om soortgelyke aansoeke ten opsigte van ander insolvente staatsondernemings in te dien.

“Nou praat ons Eskom, Denel, die SAUK en die meer as 100 ander insolvente staatsondernemings,” sê hy.

“Onthou, alle maatskappye, insluitend staatsondernemings, is onderhewig aan die Maatskappyewet.

“My beskeie mening as ’n ekonoom en rekenkundige, en nie as ’n regsgeleerde nie, is dat die aansoek – indien suksesvol – ’n enorme reperkussie kan hê vir alle staatsondernemings,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.