Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL-werkers praat: ‘Sakeredding ís enigste uitweg’
Dit kos baie geld om die SAL se vliegtuie in die lug te hou. Foto: Reuters

Om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) in sakeredding te plaas, is die enigste én beste uitweg vir die lugdiens.

“Daar is geen manier dat die ou SAL sou oorleef nie. Van vandag af is daar egter hoop, mits die regte besluite geneem gaan word.”

Dit is die mening van ’n paar van die SAL se werknemers wat Donderdag bereid was om anoniem met Netwerk24 oor die lugdiens te praat.

Ure tevore het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, bevestig dat die SAL in sakeredding geplaas word.

“Deur die SAL in sakeredding te plaas, gee dit die staat die geleentheid om vir die eerste keer politieke inmenging by die lugdiens uit te skakel.

“Die staat tree nou eindelik soos ’n verantwoordelike aandeelhouer op deur die lugdiens in sakeredding te plaas.

“Dit sal wel baie belangrik wees om te sien wie as sakereddingspraktisyn aangestel word,” sê een van die werknemers.

’n Sakereddingspraktisyn moet nou volgens wet binne vyf dae aangestel word. Die persoon moet dan binne tien dae ’n sakereddingsplan voorlê.

“Ons dink nie die staat wil noodwendig aan ’n sakereddingspraktisyn voorskryf wat gedoen moet word omdat die minister van die begin af gesê het wat die doelwit is nie.

“Inteendeel, die staat gee vir die eerste keer sekerheid wat hy wil doen en dat hy bereid is om dit te steun,” sê hulle.

Bestuur

Een van die eerste dinge wat die werknemers sê gedoen moet word, is om te kyk na hoe die SAL bestuur word.

“Glo ons, daar is hoogs gekwalifiseerde mense wat vir die lugdiens werk. Daar is egter baie min van hulle. Hulle word ook nie die nodige mandaat gegee om besluite te neem nie. Die kleinste kwessies kan maande, indien nie jare nie, duur om goedgekeur te word.

“Kyk net na die huidige waarnemende uitvoerende bestuur wat aangestel is. Hulle is net daar om die SAL te help oorleef. Hulle is nie die tipe leiers wat toegewyd is tot die lugvaartbedryf en self die dryfkrag het om die lugdiens weer volhoubaar te maak nie.”

Een van die werknemers sê mense moet ook glad nie die nalatenskap van Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL se direksie, uit die oog verloor nie.

“Hoewel baie van haar besluite gekeer kon word, het dit langdurige nadelige gevolge wat die lugdiens groot skade berokken.

“Die blote feit dat die lugdiens ouer vliegtuie wat veel swaarder op brandstofverbruik is in die lug moet hou, kos baie meer geld en tyd as wat nodig is. Danksy uitstaande tegniese kenners doen dié vliegtuie steeds goeie diens onder moeilike omstandighede,” sê die anonieme bron.

LEES OOK: Roodt én Schüssler: Daar is stééds nie hoop vir SAL

Eenheid

Nog ’n klagte is dat die SAL glad nie as ’n eenheid bedryf word wat betref sy filiale nie.

“Hoewel Mango ’n filiaal van die SAL is, bly hy steeds deel van die lugdiens. Mango word egter toegelaat om homself letterlik teen die SAL te beskerm.

“Waar die SAL op sy webtuiste besprekings nie net op sy eie vlugte toelaat nie, maar ook op dié van sy filiale wat Mango, SA Express en SA Airlink insluit, doen Mango dit nie. SA Express en SA Airlink gebruik dieselfde platform as dié van die SAL.

Die werknemers sê die manier hoe Comair vir British Airways en kulula.com in Suid-Afrika bedryf is ’n goeie voorbeeld hoe harmonie tussen filiale bereik kan word.

“Die SAL moet dus na al sy bedrywighede kyk, insluitende filiale, wanneer daar na ’n volhoubare plan gekyk word,” is hul mening.

Hoewel Mango se onafhanklikheid binne die SAL die werknemers die harnas injaag, sê hulle dié filiaal is juis ’n goeie voorbeeld dat wanneer daar nie politieke inmenging is nie, ’n staatsonderneming wel volhoubaar bedryf kan word.

Werkomgewing

Wat betref die werkomgewing sê die werkers hulle is onder geweldige druk.

“Daar word nie behoorlik met ons gekommunikeer nie. Ons hoor dikwels eers in die media wat by die werk aangaan, as wat ons dit van ons werkgewer hoor,” sê hulle.

Hulle het aan Netwerk24 gewys dat hulle Donderdag eers om 06:59 die e-pos ontvang het waar hulle ingelig is dat die SAL in sakeredding geplaas word. Die media is egter reeds om 02:00 van dié besluit ingelig.

Op die vraag oor óf Suid-Afrikaners nog met die SAL moet vlieg, is daar geen twyfel by hulle nie.

“Ons is nie net die beste lugdiens in Afrika nie, ons is ook die meeste betyds. Kyk maar na hoe buitestanders ons met ons mededingers vergelyk.

“Ons verstaan dat mense skepties is oor die minister wat vra dat mense patrioties moet wees en die SAL ondersteun. Onthou net, as jy ’n kaartjie op enige ander internasionale lugdiens bespreek, verlaat daardie geld die land. Wanneer jy ’n kaartjie op die SAL bespreek, bly dit in die land.”

Toekoms

Op die vraag oor hoekom werknemers dink die staat sal ’n ekwiteitsvennoot kan lok om in die SAL te belê, sê hulle hulle dink nie dit is “hoekom” nie, maar eerder onder watter omstandighede.

“Daar is sonder twyfel kapitaal in lugdienste. Mense reis die wêreld vol. Die vraag gaan wees hoe die nuwe SAL, wat vandag die lig gesien het toe hy in sakeredding geplaas is, toegelaat gaan word om in die toekoms as ’n maatskappy bedryf te word, en nie ’n politieke speelbal nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.