Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL wil tot 1 500 mense afdank
Die Suid-Afrikaanse Lugdiens is besig met verskeie planne om sy personeelgetalle te verminder.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se personeelgetalle kan met 10% tot 15% verminder word as planne deurgevoer word om poste te sny om geld te bespaar.

Volgens die SAL se jongste jaarverslag het die SAL as groep 10 071 werknemers. Dit sluit benewens die SAL se 5 752 werknemers ook die personeel van Mango, Airchefs, SAL Tegnies, SAL se vragafdeling, SAA Voyager en South African Travel Centre, ’n reisagentskap, in.

Volgens Sunday Times sal die staatsbeheerde lugdiens waarskynlik tussen 1 000 en 1 500 poste moet sny deur ’n kombinasie van afleggings en vrywillige uitdienstredings.

Volgens ’n bron van die Sunday Times kan die poste wat in die slag bly, tot 300 kajuitpersoneel insluit.

Vuyani Jarana, uitvoerende hoof van die SAL, het vroeër aan Carin Smith van Fin24 erken die lugdiens kom nou in ’n fase waar moeilike besluite geneem moet word en werkverliese is “ onafwendbaar” .

“Die huidige bedryfsgrondslag is nie volhoubaar nie.” Jarana het vroeër ook as deel van die SAL se verslagdoening aan die parlement verduidelik die SAL help reeds van sy vlieëniers en kajuitpersoneel om elders by ander lugdienste tydelike werk te kry, want die SAL kan hulle nie meer bekostig nie. Sodra die lugdiens weer begin groei, sal hulle weer benodig word, het hy beklemtoon.

Die SAL het in die afgelope boekjaar ’n verlies van R5,7 miljard gely. Jarana en die nuwe direksie het ’n omdraaiplan waarmee hulle mik om die lugdiens teen 2022 weer winsgewend te kry.

Op grond van die SAL se totale personeelgetalle en sy vloot van 64 vliegtuie is sy werknemer-tot-vliegtuig-verhouding tans rondom 157 werkers per vliegtuig. Dit word soms in die bedryf gebruik as ’n maatstaf vir produktiwiteit.

Vergeleke hiermee het die Duitse lugdiens Lufthansa 127 werkers per vliegtuig en Singapore Airlines 140 per vliegtuig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.