Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Saldanha: ‘Amsa speel nie volgens die reëls’

Die sukkelende staalreus ArcelorMittal (Amsa) se besluit om sy aanleg in Saldanha te sluit, verbreek ’n ooreenkoms wat hy gesluit het om hoër invoertariewe op staal te regverdig.

Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die Nasionale Werkgewersvereniging (Neasa), sê Dinsdag in ’n verklaring “die sluiting van Saldanha Staal, en die gevolglike verlies aan werk, is in stryd met een van die ondernemings wat Amsa gemaak het in ruil vir die instelling van tariewe”.

Amsa se aanleg in Vanderbijlpark.Foto: Argief

Hy sê boonop het ’n brand “ ’n paar dae gelede by die Amsa-aanleg in Vanderbijlpark” groot skade aangerig wat ’n negatiewe invloed op produksie het.

“Vreemd genoeg, in plaas van die opskorting van die tariewe, het Amsa selfs ’n aansoek van die hand gewys om staal in te voer vir die tydperk wat sy produksie geraak is,” sê Papenfus.

’n Invoertarief van 10% en ’n verdere beskermingsheffing van 8% word op staalinvoer gehef.

Dr. Umeesha Naidoo, direkteur vir primêre minerale by die departement van handel en nywerheid, het voorheen aan Netwerk24 gesê sowat 20% van die staalgebruik in Suid-Afrika is van ingevoerde staal. Die meeste hiervan kom uit China, Rusland en Taiwan.

Neasa was van die begin af gekant teen enige tariewe wat op ingevoerde staal gehef word. Die vereniging sê Amsa dring net daarop aan om homself te beskerm, en verreken nie die gevolge daarvan op die afstroom-ondernemings nie.

“Ondernemings in die stroomaf-staalsektor skaal af of sluit teen ’n ongekende koers omdat hulle nie mededingend is nie. Dit is deels as gevolg van die regering se beleid om invoertariewe af te dwing om Amsa te beskerm,” sê Papenfus.

Hy sê dit is duidelik dat nie eens invoertariewe Amsa uit sy finansiële verknorsing sal red nie, daarom is die vraag waarom die staat steeds daarop aandring.

“Amsa het verlede week sy finansiële resultate vir 2019 bekend gemaak. Dit wys hy het ’n astronomiese verlies van R4,6 miljard gelei. Dit is net ’n verdere bewys daarvan dat tariewe Amsa nie kan en sal red nie.

“Dit vertraag net die uiteindelike ondergang van Amsa, terwyl die beskerming daarvan verwoesting in die res van die sektor saai.”

Papenfus sê ook dit is ’n raaisel hoekom die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) weier om produkte wat nié deur Amsa vervaardig word nie, van tariewe vry te stel.

“Amsa se argument dat die tariewe nodig is om die speelveld gelyk te maak, is uiterste nonsens. Hoe kan hulle dit selfs net voorstel wanneer hulle goed weet dat tariewe hulle beskerm en nie net die speelveld ongelyk maak vir afstroomse nywerhede nie, maar dit heeltemal onspeelbaar maak,” vra hy.

Amsa het geen verklaring uitgereik oor die brand by die Vanderbijlpark-aanleg nie.

Die maatskappy is genader vir kommentaar.

Meer oor:  Amsa  |  Neasa  |  Gerhard Papenfus  |  Tariewe  |  Saldanha Staal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.