Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Saldanha Staal maak toe; 900 mense afgelê

ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) gaan sy staalaanleg in Saldanha in die Wes-Kaap toemaak.

Saldanha Staal gaan sluit, waardeur 900 mense hul werk gaan verloor.

Die maatskappy het Maandag in ’n verklaring gesê dat hy as deel van die eerste fase van sy strategiese oorsig besluit het om sy bedrywighede by Saldanha op ’n “ordelike wyse” af te skaal, wat eindelik die aanleg in ’n stand van “versorging en onderhoud” sal plaas.

Die proses sal reeds teen die eerste kwartaal van 2020 afgehandel word. Dit beteken 900 mense gaan die Kerstyd binne met die wete dat hulle volgende jaar werkloos gaan wees. Dis die getal werknemers en kontrakteurs by die aanleg.

“Die Saldanha-bedrywighede is gestig en gebou op die uitgangspunt van lae insetkoste, wat die onderneming ’n mededingende kostevoordeel in uitvoermarkte gegee het,” sê Kobus Verster, uitvoerende hoof van Amsa, Maandagoggend in ’n verklaring.

“Ongelukkig is die strukturele kostevoordeel oor die jare heen uitgewis en kan Saldanha nie meer volhoubaar en effektief in dié markte meeding nie. Dit is hoofsaaklik weens duurder grondstowwe en gereguleerde pryse (’n verwysing na onder meer kragtariewe).

“Saldanha het in die verlede aansienlike verliese gely en die vooruitsigte op kort tot mediumtermyn bly swak,” sê hy.

Amsa sê hy besef hoe ’n beduidende invloed die sluiting van die aanleg op die Wes-Kaap sal hê.

Die maatskappy sê sy aanleg in Vanderbijlpark, Gauteng, sal plaaslike staalbestellings by Saldanha oorneem.

“Hoewel hierdie ’n baie moeilike besluit was om te neem, veral gegewe dat die land met ’n hoë werkloosheidsyfer en lae ekonomiese groei sukkel, glo ons dat dit absoluut nodig was om die volhoubaarheid van die res van ons bedrywighede te verseker,” sê Verster.

Amsa waarsku lank reeds dat die aanleg in Saldanha onder geweldige druk is.

Hy het reeds in 2017 gewaarsku as hy nie onder meer ’n beter kragtarief met Eskom kan onderhandel nie, gaan dié aanleg se deure gesluit moet word.

LEES OOK: Kragtariewe: ‘Saldanha Staal sal sluit’

Amsa het in Augustus wéér gesê hy kon steeds geen nuwe tariewe beding nie en dat dit sy aanlegte onder druk plaas.

Amsa sê in die verklaring hy gaan volgende op sy aanleg in Newcastle, KwaZulu-Natal, fokus as deel van sy oorhoofse hersieningsproses.

In die geval van Newcastle sê Amsa gaan daar gekyk word hoe “die strukturele kosteposisie en diensaanbieding” volhoubaar verbeter gaan word van die deel van die aanleg wat langstaal vervaardig.

Hy het Maandag bevestig dat die herstruktureringsproses om tot 2 000 van sy 8 700 werknemers uit diens te stel nou voortgaan nadat die konsultasieproses afgehandel is wat deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie gefasiliteer is.

Shanah Damonse, voorsitter van die Weskus-sakekamer, wou Maandagoggend nie onmiddellik kommentaar lewer nie, want sy het ook maar eers ná 10:00 die nuus gehoor en wou eers die res van die sakekamer se raad raadpleeg. Die kantoor van Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het navrae verwys na David Maynier, Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede.

Die Wes-Kaapse handelsbevorderingsagentskap Wesgro het ook nog nie op navrae gereageer nie.

Amsa het Maandagoggend onveranderd teen R1,71 op die JSE verhandel.

Meer oor:  Arcelormittal Sa  |  Amsa  |  Staalbedryf  |  Staal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.