Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Saldanha Staal: Moeilike geboorte van ’n wit olifant

Saldanha Staal, wat volgende jaar gaan sluit met die gepaardgaande werkverliese en negatiewe impak op die Weskus- en Wes-Kaapse ekonomieë, het uit die staanspoor ’n moeilike geboorte gehad.

   

Reinet van Zyl en Chrisna Coertzen, albei ingenieurs en enkele van die “vroue van staal” wat vir Saldanha Staal gewerk het. Foto: Carin Smith

Die eerste berigte oor die destydse Yskor se staalprojek van R3,6 miljard langs die strandmeer by Langebaan het vroeg in 1995 begin opduik, blyk dit uit ’n gekrap deur Die Burger se argiewe.

Dit het egter onmiddellik ’n storm onder omgewingsbewustes ontketen, en van die Nasionale Parkeraad en Kaapse Natuurbewaring tot die Wêreldnatuurfonds het beswaar gemaak en veldtogte gedryf om aanvanklik die projek te stop, maar later om te veg dat die staalfabriek verder van die strandmeer af gebou word.

Berigte deur Igna Schneider, destyds omgewingsverslaggewer van Die Burger, het van 1995 tot 1997 deeglik gedokumenteer hoe die stryd tussen die verskillende rolspelers uitgespeel het.

Die Parkeraad het gewaarsku dat Saldanha Staal die Langebaan-strandmeer, die voëllewe en die toerisme-inkomste van die Weskus-streek benadeel.

In daardie stadium het Kaapstad nog sy oog gehad op ’n bod om die Olimpiese Spele in 2004 aan te bied, en die Parkeraad wou die Groot Vyf – die leeu, renoster, olifant, luiperd en buffel – in sy suidelike parke vestig sodat internasionale toeriste nie ver hoef te ry om die Groot Vyf te sien nie. Die Parkeraad het geglo ’n reusagtige nywerheidsgebied sou sulke planne bedreig, en hy wou hê die staalfabriek moet 15 km verder die binneland in gebou word.

‘Ons makeer staal, want ons kinders is kaal’

Teen April 1995 is berig dat die projek nou R5 miljard kos, en Yskor het begin om die omgewingsveldtog teen sy projek te voel. Aan die ander kant het die sakegemeenskap aan die Weskus weer die projek aangemoedig en selfs werkloses aangery om by die Wes-Kaapse regering se kantore in Kaapstad te betoog met plakkate wat lui: “Ons makeer staal, want ons kinders is kaal” en “Groenes sê nee, maar Yskor sal werk gee”.

Teen 2005 het sakelui al toegegee dat van die groot beloftes wat gemaak is oor verdere verwerkingsnywerhede wat deur die fabriek na die Weskus gelok sou word, het niks gekom nie.

Die projek het selfs ’n politieke geur gekry, met ’n kortstondige koppestamp tussen Trevor Manuel, toe nog minister van handel en nywerheid, en Lampie Fick, Wes-Kaapse LUR vir beplanning, oor wie die grootste gesag oor die finale besluit oor die fabriek het. Fick moes die hersonering van die perseel van landbou in nywerheid goedkeur.

Teen Mei 1995 het Yskor begin twyfel of dit nog die moeite werd is om met die projek voort te gaan, want die teenkanting deur omgewingsgroepe het reeds tot vertragings gelei, terwyl Yskor teen daardie tyd al toerusting van R160 miljoen vir die bouwerk bestel het.

In Mei 2009 het ’n brand in die Saldanha Staal-aanleg uitgebreek.

Dit het geblyk dat Yskor haastig met vroeë bestellings was want hy wou ’n belastingkorting van R1 miljard gebruik voordat dit teen Januarie 1995 geskrap is, het Schneider berig.

Van die omgewingsbesware het oordrewe geblyk, want teen daardie tyd was daar reeds die ysterertsuitvoerkaai en Sishen-spoorlyn tot by die Saldanha-hawe wat gesorg het vir die rooi stof wat alles aan daardie kant van Saldanha inkleur. Olietenkskepe het toe ook al gereeld die hawe aangedoen om olie vir die Strategiese Brandstoffonds se opgaartenks op- of af te laai.

Skuif die perseel

Bernard Smith, besturende direkteur van Saldanha Staal, sê in Mei 1995 dit sal Yskor R50 miljoen per jaar kos om die beoogde fabriek na ’n alternatiewe terrein te skuif. Dit is onbekostigbaar want die staalbedryf is siklies van aard. Pryse is die een jaar goed en die ander jaar swak.

Die Langebaan-strandmeer is ingevolge die Ramsar-verdrag ’n beskermde gebied, en dié feit is gebruik deur rolspelers soos politieke partye en omgewingsdrukgroepe om Yskor te dwing om die aanleg verder van die strandmeer af te skuif.

Kommer oor water

Kommer oor watergebruik het Yskor gedwing om ’n ekstra R24 miljoen uit te gee om die fabriek lugverkoel te maak pleks van waterverkoel, wat sy waterverbruik per dag tot 8 000 m³ sou halveer. Daar was vrese dat die Bergrivier sou opdroog en grondwater besoedel sou word.

Reinet van Zyl en Chrisna Coertzen, albei ingenieurs en enkele van die “vroue van staal” wat vir Saldanha Staal gewerk het. Foto: Carin Smith

Flaminke gaan menskos word

Teen Junie 1995 het ’n hofbevel teen die hersoneringsbesluit die projek nog langer vertraag, en ’n ondersoekraad is onder oudregter Jan Steyn aangestel.

In die openbare sitting voor die raad het Hennie Griesel, toe voorsitter van die Saldanha-sakekamer, gesê met werkloosheid van 40% in die gebied kry die mense reeds baie swaar en kan die pienk flaminke van Langebaan selfs menskos word. “As Saldanha Staal nie kom nie, sal die flaminke in die jare vorentoe kos moet wees vir die hongeres.”

As alternatief het die Noord-Kaap aangebied dat die staalfabriek by Sishen gebou word, maar dié opsie is nie aanvaar nie.

Yskor onttrek

Teen September 1995 het Yskor aangekondig hy onttrek hom aan die projek, want daar is al te veel vertragings en dit sal nie meer ekonomies lewensvatbaar wees nie. Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie, die ander vennoot in die projek, het oorweeg om ’n derde vennoot te soek.

Later beveel die Steyn-ondersoekraad aan dat die fabriek 10 km verder van die strandmeer af moet skuif. Maar teen November 1995 is goedgekeur dat die fabriek 2 km verder van die oorspronklike terreinkeuse gebou mag word mits aan streng omgewingsvoorwaardes gehou word. Yskor keer weer terug as vennoot, en die boukoste word van R5 miljard na R4,5 miljard aangepas.

’n Onafhanklike oudit ’n jaar later het gewys dat Saldanha Staal sowat 500 m “gesteel” het en dat die fabriek nou sowat 3,5 km en nie 4 km nie van die kus af gebou is. Die projek kos nou R6,8 miljard, en is bestempel as die grootste privatesektorprojek nog in die Wes-Kaap.

Die fabriek begin uiteindelik in die middel van 1998 met produksie, met ’n mikpunt van 1,25 miljoen ton warmgewalste platstaal per jaar.

Teen 2000 het die fabriek egter ’n verlies van R945 miljoen gely, en daardie jaar nog net 576 000 ton staal vervaardig – minder as die helfte van die teiken waarvoor dit ontwerp is.

Leë beloftes

Teen 2005 het sakelui al toegegee dat van die groot beloftes wat gemaak is oor verdere verwerkingsnywerhede wat deur die fabriek na die Weskus gelok sou word, het niks gekom nie. Saldanha Staal gebruik vloeibare petroleumgas as energiebron in van sy produksieprosesse, asook steenkool.

Oor die jare is herhaaldelik gepraat oor aardgas van die Kudu-gasveld aan die Namibiese kus en later van die Ibhubesi-gasveld aan die Weskus wat dan per pypleiding na Saldanha geneem sou word om ’n goedkoper kragbron vir Saldanha Staal te kan lewer. Eskom sou ’n gaskragstasie by Saldanha bou om ook van die aardgas te gebruik. Maar ook daardie drome het net drome gebly.

  • Yskor het mettertyd die NOK se belang in die fabriek uitgekoop, en later in twee verdeel, Kumba Iron Ore en Mittal Steel, wat later met Arcelor saamgesmelt het om ArcelorMittal te vorm. Teen 2010 het Amsa al gedreig om Saldanha Staal te sluit weens ’n dooiepunt in ’n geskil met Kumba oor ysterertspryse, en in 2016 het Amsa ook sulke planne oorweeg weens duur elektrisiteit en swak pryse vir uitvoerstaal.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.