SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Maatskappye
Saldanha Staal: Regering spartel dalk verniet

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, het Dinsdag ’n pleidooi gerig dat die besluit om Saldanha Staal te sluit, omgekeer kan word of dat die aanleg verkoop word as ’n “laaste opsie” om dit te red.

Dis egter wensdenkery – volgens ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa), eienaar van die aanleg, self, maar ook volgens ander in die staalbedryf.

Saldanha Staal gaan sluit, waardeur 900 mense hul werk gaan verloor.

Patel het Dinsdag in ’n verklaring gesê hy is “diep teleurgesteld” dat Amsa ná maande se gesprekke tussen die regering, vakbonde en Amsa self voortgaan om sy Saldanha-aanleg te sluit en dus byna 1 000 werkers af te lê.

Die regering sê hy het R500 miljoen se jaarlikse kostebesparings vir Amsa onderhandel, plus ’n eenmalige R200 miljoen se besparings in slegs die afgelope paar maande.

Dit is benewens invoertariewe op sekere ingevoerde staalprodukte wat veronderstel was om Amsa te beskerm teen die storting van goedkoop staal vanuit onder meer China. Daar is tans ’n ooraanbod van staal wêreldwyd.

Patel stel voor dat die aanleg as ’n laaste opsie verkoop word, nie net om broodnodige poste in die Weskus-streek te red nie, maar omdat die verlies van die aanleg ’n “enorme hou vir Suid-Afrika se industrialisasie sal wees”.

Maar Neasa, ’n werkgewersorganisasie vir kleiner werkgewers in die staal- en vervaardigingsbedryf, sê dis juis die regering se ondersteuning van onwinsgewende en nielewensvatbare maatskappye soos Amsa wat die meeste skade doen.

Suid-Afrika moet homself voorberei op ’n bedeling sonder Amsa.
Gerhard Papenfus

Saldanha se sluiting is dus, volgens Neasa, net die begin.

“Suid-Afrika moet homself voorberei op ’n bedeling sonder Amsa,” sê Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van Neasa, in ’n verklaring.

“Amsa het self aangedui dat niks gedoen kan word om sy Saldanha-bedrywighede te red nie, selfs nie laer kragtariewe nie.”

Kobus Verster, uitvoerende hoof van Amsa, stem saam. Volgens hom is die verkoop van Saldanha Staal nie ’n opsie nie.

“Ons bedryf die aanleg uiters effektief en ek glo nie iemand anders gaan dit regkry om in die huidige markomstandighede dit reg te kry om hom winsgewend te bedryf nie,” het Verster Maandag op ’n telefoonkonferensie gesê.

Die departement het in sy poging om Saldanha, en Amsa as geheel, te ondersteun, met verskaffers van alles van erts tot krag onderhandel.

Volgens Neasa het Mike Schüssler, ekonoom, se verslag oor Amsa bevind dat dit die maatskappy se eie bedrywighede is wat dit vir hom onmoontlik maak om mee te ding – nie insetkoste en internasionale mededingers nie.

“Ons is van die mening dat dieselfde geld vir Amsa se nasionale bedrywighede. Invoerbelasting en -tariewe, hoewel dit ’n verwoestende impak op die res van die staalbedryf stroomaf het, sal Amsa nie meer kan red nie.

“Dit bied Suid-Afrika bloot ’n verloor-verloor-scenario.”

Amsa doen tans aansoek dat die res van sy bedrywighede bykomende beskerming vanaf die regering kry in die vorm van nuwe en hoër invoertariewe op mededingende staal.

Neasa meen dit sou bloot ’n maatskappy wat nie doeltreffend bedryf kan word nie, ten koste van talle ander kunsmatig aan die gang hou.

“Hoewel dit jammer is dat dit hierop neergekom het, is die werklikheid dat, wat proteksionistiese tariewe op die invoer van staal betref, die regering sal moet kies tussen die beskerming van ’n onwinsgewende, sukkelende Amsa, wat 9 000 werknemers het, of die verbreking van die houvas wat dié tariewe stroomaf van die staalbedryf het (in baie sektore), wat meer as 500 000 werknemers raak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.