Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sanlam, Motsepe skep nuwe batebestuurder

Die langdurige vennootskap tussen Sanlam en die miljardêr Patrice Motsepe gaan nou die vestiging van ’n batebestuursfirma meebring wat swart eienaarskap ’n hupstoot gee, twee jaar nadat die finansiëledienstefirma dit voorsien het.

Patrice Motsepe se finansiëledienstefirma African Rainbow Capital en Sanlam bou hul vennootskap uit. Foto: Gallo Images

Sanlam en African Rainbow Capital het Donderdag dié nuus in afsonderlike Sens-verklarings aangekondig.

Dit behels die stigting van ’n nuwe beleggingsbeheerfirma, nog naamloos, wat Sanlam aanvanklik ten volle sal besit. Al Sanlam se belange in derdeparty-batebestuursondernemings wat tans onder Sanlam Investment Holdings val, sal onder die nuwe beleggingsbeheerfirma sorteer. Dit sluit die batebestuursbedrywighede van Sanlam Private Wealth en Sanlam Specialised Finance uit.

African Rainbow Capital Financial Services sal dan aandele in die nuwe beleggingsbeheerfirma koop wat hom ’n effektiewe belang van 25% sal gee. Dit sal ’n belegging van R815,2 miljoen beloop.

African Rainbow Capital (ARC) is ’n volfiliaal van Ubuntu-Botho Investments, Sanlam se oorspronklike bemagtigingsvennoot wat 14,5% van Sanlam se aandele besit. ARC besit op sy beurt 50,1% van ARC Financial Services; die res word deur die ARC Fund besit.

Motsepe is die voorsitter van sowel ARC as Ubuntu-Botho, en dr. Johan van Zyl, voormalige uitvoerende hoof van Sanlam, is ’n uitvoerende direkteur in albei direksies.

Sanlam sê die bevordering van inklusiewe welvaartskepping in al sy markte is ’n belangrike aandrywer van sy langtermynvooruitgang.

“In die Suid-Afrikaanse konteks vereis institusionele kliënte (soos pensioenfondse) dat deelnemers in die finansiëledienstebedryf op verskillende maniere tot inklusiewe welvaartskepping bydra, insluitend regstreekse breëbasis- swart ekonomiese eienaarskap. In die batebestuursbedryf is geloofwaardige bemagtiging op die vlak waar institusionele beleggers betrokke is ’n belangrike oorweging wanneer mandate toegeken word.

“Dit is dus in Sanlam se sake- en handelsbelang om in pas met die behoeftes en voorkeure van sy huidige en potensiële kliënte te transformeer deur ’n leidende swartbeheerde batebestuursonderneming te skep.”

Die maatskappy sê dit sal ook sy langtermynvolhoubaarheid en mededingendheid verhoog en verseker dat hy langtermynwaarde vir belanghebbendes kan skep. Dis veral relevant in die heersende “uitdagende bedryfsomgewing” soos die land van die impak van die Covid-19-pandemie begin herstel. Sanlam verwag dat dinge nog geruime tyd moeilik sal bly.

Die transaksie gaan na verwagting op 1 Desember voltrek word.

Dis nog onderhewig aan goedkeuring deur reguleerders, onder meer die Omsigtigheidsowerheid in die Reserwebank.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.