Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sanlam sukkel om rykes se vertroue te herwin
Beleggersvertroue onder Sanlam se Glacier-produkte se teikenmark bly onder druk

Die nuwe kontrakte van Sanlam Personal Finance, wat die grootste bydraer tot inkomste en wins van die Sanlam-groep is, het in die kwartaal tot einde April met 9% gedaal.

Dit is toegeskryf aan die laer vraag na Glacier se produkte.

“Beleggersvertroue in Glacier se teikenmark bly onder druk en stem ooreen met die tendens wat al sedert die tweede kwartaal van 2018 beleef is,” het Ian Kirk, uitvoerende hoof van die groep, Woensdag op die jaarvergadering gesê.

Sanlam het toe gesê meer welvarende mense begin remme aanslaan met hul beleggings weens die politieke en ekonomiese onsekerheid in die land.

Glacier se nuwe kontrakte het met 12% gedaal.

Die produkte wat deur Sanlam Sky verkoop word, het groei van 90% in die kwartaal ondervind. Dit het ingesluit ’n “uitsonderlike vertoning van die begrafnispolisse wat deur Capitec Bank verkoop word”.

Netwerk24 het in Maart berig dat die begrafnispolisse en kredietlewensversekering wat Capitec Bank aan sy kliënte verkoop, in die afgelope boekjaar ’n enorme R999 miljoen tot Sanlam se omset bygedra het.

Lees ook: Capitec se polisse gee Sanlam woema

Daar is verlede jaar met die verkoop van die polisse begin.

Kirk meen ten spyte van die voortgesette moeilike bedryfstoestande in Suid-Afrika, wat steeds Sanlam se grootste mark is, het die groep in die kwartaal ’n bevredigende vertoning gelewer.

Beleggersvertroue in Glacier se teikenmark bly onder druk en stem ooreen met die tendens wat al sedert die tweede kwartaal van 2018 beleef is.
Ian Kirk

Sanlam Personal Finance se resultate uit finansiële dienste het sterk gestyg as gevolg van sterk groei in verdienste van Glacier en Sanlam Sky. Dit is toegeskryf aan ’n beter beleggingsvertoning vergeleke met ’n jaar gelede wat die inkomste uit gelde van Glacier verhoog het.

In geheel het die groep ’n netto invloei van beleggingsgeld van R15,9 miljard in die vier maande gekry, wat 30% hoër is as dieselfde kwartaal verlede jaar.

Dit is toegeskryf aan die sterk invloei wat Sanlam Investments Group, wat batebestuur doen, gekry het. Sy netto invloei het R8,4 miljard beloop vergeleke met R3,5 miljard in die ooreenstemmende tydperk. Sy bydrae tot die resultate van finansiële dienste het 15% gedaal.

Sanlam Employee Benefits het in die kwartaal meer eise ontvang veral vir ongeskiktheidsversekering. Dit het ’n negatiewe impak op die wins gehad.

Kirk voorsien nie dat die ekonomiese toestande in Suid-Afrika en Namibië in die res van 2019 ’n groot herstel gaan toon nie.

Die groei in nuwe kontrakte gaan onder druk bly en markte gaan wisselvallig bly weens die spanning wat die handelsoorlog tussen Amerika en China veroorsaak.

Meer oor:  Sanlam  |  Capitec  |  Finansiële Dienste  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.