Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sanral: Aveng ‘lieg oor brug-kontrak’
’n Argitekvoorstelling van die Mtentu-brug op die N2 aan die Wildekus.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het Dinsdag met regstappe gedreig teen die maatskappye wat hulle onttrek het aan die kontrak om Afrika se hoogste brug te bou.

Dit kom nadat die vennootskap van Aveng en die Oostenrykse maatskappy Strabag International Maandag gesê het hulle gaan nie meer die Mtentu-brug aan die Wildekus vir Sanral bou nie weens gewelddadige betogings deur lede van die gemeenskap, wat onder meer aangedring het op werk by die brug.

Vusi Mona, woordvoerder van Sanral, sê prontuit Aveng lieg: “Die kontrakteur is nie deursigtig oor die ware redes waarom die perseel verlaat word nie, maar Sanral vermoed die welbekende finansiële uitdagings van Aveng het daartoe bygedra.”

Aveng en Strabag het besluit om nie op Mona se aantygings te reageer nie, het ’n woordvoerder hierna gesê.

Sanral “sal alles in sy vermoë doen om sy belange te beskerm”, sê Mona. Die agentskap sê hy het reeds met die tesourie in gesprek getree om te bepaal hoe die bouwerk so gou moontlik hervat kan word.

“Sanral sal ook ondersoeke gelas na die gedrag van die kontrakteur gegrond op bewerings wat die gemeenskap in hul versoekskrif gemaak het . . .

“Sanral betreur die vertragings en koste wat uit dié verlating van die projek deur die kontrakteur sal voortspruit.”

Werk aan die brug is op 22 Oktober verlede jaar opgeskort nadat gemeenskapslede – van hulle met aanvalsgewere bewapen, volgens Sanral se eie woorde – op werkgeleenthede by die projek aangedring het.

Aveng en Strabag het Maandag volgehou die dreigemente van geweld duur voort.

Lees ook: Besluit oor brug ‘slegte nuus vir SA’

Sanral “verwerp dié bewering ten sterkste”. “Die regering op sowel nasionale as plaaslike vlak het alles wat nodig was gedoen om te verseker dat dit vir die kontrakteur veilig was om terug te keer na die perseel,” sê Mona.

Hy sê ná “uitgerekte onderhandelinge” met die gemeenskap, mense wat die versoekskrif opgestel het en ander plaaslike belanghebbendes is ’n skikking op 9 Januarie vanjaar bereik.

“Daar is ooreengekom op ’n proses om alle oorblywende probleme op te los. Daar is ook ooreengekom om enige toekomstige probleme op te los sonder om die werk te onderbreek, en dis ooreengekom dat konstruksie aan die brug onverhinderd sou kon hervat van Maandag 14 Januarie 2019 af.”

Daar is ongelukkige militante vakbonde en twee militant-gesinde politieke partye wat dit letterlik lewensgevaarlik maak om in sommige dele van Suid-Afrika te woon en te werk.
Roelof Botha

Aveng en Strabag sou R1,6 miljard uit die kontrak verdien het.

Die Mtentu-brug van 1 132 m lank is deel van ’n groter projek op die N2-Wildekuspadprojek.

Aveng en Strabag het Sanral op 30 Januarie ná regsadvies ingelig dat hulle hul aan die kontrak onttrek. Dit word op 6 Februarie van krag.

Diana Neumüller-Klein, Strabag se hoof van kommunikasie en beleggersverhoudinge, het per e-pos gesê die tender was vir sowel Aveng as Strabag belangrik en die vennootskap verstaan hoe belangrik die projek is, “sowel wat betref infrastruktuurontwikkeling as opheffing van die gemeenskap”.

Sy sê egter die “aard van die dreigemente, onrus en betogings was ongeëwenaard”.

“Die konstruksie van die Mtentu-brug is tegnies veeleisend en vereis voldoening aan die strengste internasionale standaarde vir ingenieurswese en veiligheid, met geen speling vir ontwrigting van die aard wat ervaar is nie.”

Die ekonoom dr. Roelof Botha, wat die kwartaallikse Afrimat-indeks van vertroue in die konstruksiesektor opstel, het Dinsdag gesê Aveng se besluit is baie slegte nuus vir die land.

“Daar is ongelukkige militante vakbonde en twee militant-gesinde politieke partye wat dit letterlik lewensgevaarlik maak om in sommige dele van Suid-Afrika te woon en te werk,” sê Botha.

“Wie wil in só ’n land belê? Ons word nou oor dieselfde kam geskeer as mislukte lande soos Zimbabwe.

“Ons grawe ons eie graf deur nie probleme op te los nie. Ons wil hê Westerse moondhede moet by ons kom belê, maar daar is geen sekerheid of hulle selfs net hul belegging sal kan terugkry nie.”

Meer oor:  Aveng  |  Sanral  |  Maatskappye  |  Konstruksie  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.