Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sanral en Outa haaks oor wins op tolpaaie
Die De Hoek-plaza op die N3-snelweg.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) moet oop kaarte speel oor presies hoeveel wins N3TC verdien.

Dit is die versoek van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa).

N3TC is een van drie konsessiehouers wat tolpaaie namens Sanral bou en bedryf. Hy bedryf spesifiek die N3-tolpad tussen Johannesburg en Durban.

Die kontrak is vir 30 jaar. Ná afloop van dié tydperk, word die pad weer aan Sanral teruggegee.

Outa sê hoewel hy reeds Sanral en Fikile Mbalula, minister van vervoer, gevra het om besonderhede oor die kontrak met N3TC aan hom te verskaf is dit steeds nie vir hom gegee nie. Hy het nou ’n amptelike aansoek ingevolge die Wet op die Toegang tot Inligting (Paia) ingedien om die inligting te bekom.

“Ons glo dat die kontrakte met konsessiehouers verantwoordelik vir tolpaaie wat oor lang afstande strek deursigtig moet wees en dat hul boeke vir die publiek oopgemaak moet word. Ons is van mening dat daar ’n moontlikheid kan wees dat konsessiehouers voordeel uit buitensporige wins trek,” sê adv. Stefanie Fick, hoof van die afdeling vir toerekenbaarheid by Outa, in ’n verklaring.

Sy sê as dit wel die geval is, behoort N3TC die tolgeld te verlaag of ’n groter opbrengs aan Sanral uit te keer.

Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa, sê wat hulle bekommerd maak, is dat die jaarlikse opbrengste wat Sanral van die drie konsessiehouers ontvang het minimaal is en dat dit baie jare lank onveranderd gebly het.

“Dit sou daarop dui dat daar weinig in die jaarlikse evaluering van die winste van die konsessiehouer gedoen word en die vermoede bestaan ??dat die publiek moontlik nie ’n billike deel van die opbrengs uit hierdie kontrakte kry nie,” sê hy.

“Die afgelope tien jaar het die toltariewe wat die konsessiehouers hef met ongeveer 80% gestyg, maar tog het Sanral ’n vaste bedrag ontvang. Iets maak nie sin nie.”

Vusi Mona, woordvoerder vir Sanral, het Vrydag in ’n verklaring gesê buiten dat Sanral nie glo dat sy konsessiehouers buitensporige winste maak nie, hy nie die reg het om dié inligting aan Outa te gee nie.

“Ingevolge art. 36 van Paia het Sanral die reg om die kommersiële inligting van derde partye te beskerm,” sê hy.

“Aangesien art. 36 Sanral verplig om die kommersiële regte van hierdie derde partye te beskerm sal ons geen ander keuse hê as om so ’n aansoek volgens wet te verdedig nie.”

Sanral sê wat die kwessie oor buitensporige wins betref, bevat al sy kontrakte klousules wat dit juis verbied. Hy wys ook daarop dat alle konsessiehouers se finansiële state elke jaar deur die ouditeur-generaal hersien word.

Meer oor:  Outa  |  Sanral  |  Tolpaaie  |  N3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.