Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sanral: ‘Geweld op boupersele nie ons probleem’

“Cowboys don’t cry.”

Dít is die reaksie van Ismail Essa, wat vir transformasie in die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) verantwoordelik is, oor die uitdagings wat kontrakteurs op boupersele ondervind.

’n Kunstenaarsvoorstelling van die Mtentu-brug in die Oos-Kaap. Foto: Argief

“Ons kan nie die risiko neem (van wat op die boupersele gebeur) nie. Dit is die verantwoordelikheid van die kontrakteur.

“As jy daarvoor moet begroot, dan moet jy dit as deel van jou bod vir ’n projek doen,” het hy op ’n paneelbespreking oor die geweld op boupersele in Suid-Afrika gesê.

Hy het die “cowboy”-kommentaar aan Derick Goodwin, direkteur verantwoordelik vir kontrakte van die konstruksiemaatskappy Stefanutti Stocks, gerig.

Beide het saam met Robert Ndlela, sekretaris-generaal van die Federasie vir Radikale Ekonomiese Transformasie, en Ayanda Notshweleka, besturende direkteur van Maskhane Projekbestuur, aan ’n gesprek oor dié probleem deelgeneem. MDA Attorneys het dit aangebied.

Geweld op konstruksiepersele, veral waar paaie gebou word, is ’n enorme probleem in Suid-Afrika.

Dit is die rede waarom Aveng en sy Duitse vennoot, Strabag International, besluit het om hulle aan die R1,6 miljard-Mtentu-brugprojek in die Oos-Kaap te onttrek.

Sanral het die vennootskap vir kontrakbreuk gedagvaar en sê nie genoeg is gedoen om die probleme op te los wat met die gemeenskap ondervind word nie.

Sanral gaan nou ’n nuwe tender vir die konstruksie van die brug uitreik.

LEES OOK: Sanral wil teen 2021 weer bou aan sy brug

Die groot probleem met die projekte is dat sogenaamde “sakeforums” in plaaslike gemeenskappe daarop aandring dat plaaslike kontrakteurs aangestel word.

Selfs Ndlela, wat volhou dat die meeste van die maatskappye wat deel vorm van dié forums “eerlike maatskappye is wat net werk soek”, erken dat daar “skurke” is wat geleenthede soek wat hulle vir eie gewin kan uitbuit.

Deelnemers aan die paneelbespreking was dit eens dat daar duidelikheid moet wees oor presies wat ’n plaaslike kontrakteur is. Hulle stem ook saam dat alle belanghebbendes van die begin af moet verstaan wat die projek behels en in watter mate kleiner kontrakteurs ingesluit kan word.

“Ons kan nie, nadat ons ’n kontrak met ’n kliënt soos Sanral gesluit het, teruggaan en groot veranderinge daaraan maak om nuwe subkontrakteurs in te sluit nie,” sê Goodwin.

“Ons is regtens verbind tot wat in die kontrak staan.”

Hoewel Essa sê dit bly die hoofkontrakteur se taak om ’n projek te bestuur, ingesluit alle moontlike risiko’s (soos gemeenskapgeweld), skep Sanral wel projekskakelkomitees om op dié manier alle belanghebbendes bymekaar te bring.

Sanral stel dit duidelik op sy webwerf dat dié komitees nie daar is om kontrakte toe te ken of mense in diens te neem nie.

Essa stel dit ook duidelik dat gemeenskappe net een verteenwoordiger op so ’n komitee toegelaat word.

“Hulle moet besluit wie hul verteenwoordiger is, ons kan nie 50 van hulle daar hê nie,” het hy reguit gesê.

Sanral sê hy onderneem wel om sy vereistes vir die aanstel van plaaslike kontrakteurs duidelik in tenderdokumente uiteen te sit. Essa sê waar moontlik sal hulle ook inligting oor kontrakteurs wat in ’n betrokke gebied bedrywig is, beskikbaar stel vir groot maatskappye wat vir projekte wil tender.

Notshweleka, wie se maatskappy self ’n kontrak ter waarde van R54 miljoen vir die bou van die Mtentu-brug losgeslaan het, beskuldig die groot konstruksie-maatskappye daarvan dat hulle nie verstaan wat dit behels om in gemeenskappe te werk nie.

Hy sê die groot maatskappye moet beter steun en opleiding aan die kleineres gee.

Essa sê daar word reeds sowat 5% van ’n kontrak se totale waarde aan opleiding bestee. Dit is opleiding wat kleiner kontrakteurs gratis ontvang, maar waarvoor die kliënt dikwels betaal.

Notshweleka sê Maskhane verskaf klip en ander bouprodukte vir die bou van die Mtentu-brug.

Die brug van 1 132 m lank sal waarskynlik nou eers teen 2024 voltooi word.

Meer oor:  Stefanutti Stocks  |  Sanral  |  Bouprojek  |  Konstruksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.