Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sanral stel app bekend om met e-tol te help

Terwyl honderde Gautengers steeds weier om e-tol te betaal, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) pas ’n app bekend gestel wat betalings vir hulle sal vergemaklik.

Die e-tolhekke op Gautengse paaie is vir die meeste inwoners ’n steen des aanstoots.

Pendelaars sal die app kan gebruik om die balans op hul e-tolrekening na te gaan en ook om vinnig te kan betaal.

Vusi Mona, kommunikasiebestuurder van Sanral, sê in ’n verklaring dit sal “waarde vir rekeninghouers ontsluit”. “Dit gaan oor gerief vir motoriste, en om tot veiliger, genotvolle reise by te dra.”

Die app se naam is bloot Sanral en dit kan op Android- en Apple-toestelle afgelaai word.

Die app bevat ook inligting oor die weer, verkeersknope en enige voorvalle op jou roete. Sanral sê nog funksies sal mettertyd bygevoeg word.

Gebruikers sal die app kan verpersoonlik deur hul eie voorkeure oor inhoud te gee wanneer hulle aanmeld.

Sanral het onlangs bekend gemaak sy inkomste uit e-tol vir die Gautengse snelwegverbeteringsprojek (GFIP) het in die boekjaar tot einde Maart met 4,8% oftewel met R700 miljoen tot R2,9 miljard gedaal.

Die maatskappy moes R1,667 miljard van sy nie-tolafdeling na die tolafdeling oordra “om die verliese weens die volgehoue wanbetaling van tolgeld deur gebruikers van die GFIP-paaie te verminder”.

Daarbenewens moes die tesourie spesiaal R406 miljoen bewillig om die daling in inkomste by die GFIP teen te werk.

Sanral het in die boekjaar landwyd uit al sy tolpaaie R5,194 miljard uit tolgeld verdien. Dis 5,77% meer as in die vorige boekjaar, maar minder as die styging van 5,9% in toltariewe.

Ander tolpaaie as die GFIP het altesame 12,8% méér geld laat inrol, en Sanral sê nagenoeg die helfte kom van die styging in tariewe en die helfte van ’n styging in padverkeer.

Deels weens die wanbetaling het die tesourie in Oktober se mediumtermynbegrotingsraamwerk R5,8 miljard aan Sanral toegewys om van sy skuld te delg wat oor die volgende paar jaar betaalbaar word.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) hou vol e-tol is onregmatig en ongrondwetlik. Outa het in 2012 ’n hofstryd in die konstitusionele hof hieroor verloor, maar hou vol om die stelsel te beveg.

Meer oor:  Sanral  |  Vusi Mona  |  Outa  |  E-Tol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.