Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sanral stel sy beleid oor transformasie bekend
Sanral wil meer swartbeheerde verskaffers gebruik.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) gaan voortaan net swart eiendomsagente en swart eiendomsontwikkelaars gebruik vir kontrakte onder R100 miljoen.

Konsessies vir die bestuur en bedryf van tolpaaie sal slegs toegeken word aan maatskappye met 51% swart eienaarskap, en die aantal kontrakte aan gevestigde en oorheersende bedryfsrolpelers sal beperk word om monopolieë te verminder.

By groot kapitaalprojekte gaan Sanral net sake doen met maatskappye wat minstens 51% in swart besit is en wat ’n minimum bemagtigingsgradering van vlak 2 het.

’n Maksimum van 15 tenders per jaar sal aan ’n enkele maatskappy toegeken mag word, en kontrakteurs sal van Sanral-goedgekeurde subkontrakteurs gebruik moet maak.

Dit is deel van Sanral se konsepbeleid oor transformasie wat hy onlangs vir kommentaar en konsultasie met belanghebbendes gedeel het.

Joe Maswanganyi, minister van vervoer onder wie se toesig Sanral val, het luidens ’n Sanral-verklaring gesê die agentskap gaan sy verkrygings- en voorsieningskettingprosesse gebruik om die konstruksiebedryf te transformeer.

“Die nuwe transformasiebeleid stel duidelik gedefinieerde teikens vir die deelname van swart kontrakteurs, professionele mense en verskaffers in alle projekte wat die agentskap aanpak,” sê Maswanganyi.

Skhumbuzo Macozoma, uitvoerende hoof van Sanral, sê hulle wil die tradisionele monopolieë in die voorsieningskettings in die konstruksiebedryf opbreek.

Toekomstige kontrakte sal vereistes vir die gebruik van plaaslike arbeid stel, en sal voorkeur gee aan plaaslik-ontwikkelde materiale, toerusting en tegnologie.

By groot projekte sal sogenaamde “politieke oorsigkomitees” en tegniese loodskomitees toesig hou oor plaaslike projekskakelkomitees wat gestig sal word in die omgewing waar ’n spesifieke padbouprojek beplan word.

Die politieke oorsigkomitee sal ’n “hoëvlak”-komitee wees, gelei deur die betrokke politieke hoof van die gebied om beleids- en politieke kwessies van ’n projek uit te sorteer.

Dit blyk dié strategie van Sanral is om hom te probeer loswikkel uit ingewikkelde probleme soos aan die Wildekus in Transkei waar die gemeenskap verdeeld is oor die bou van die beoogde N2-deurpad.

Sanral wil in sy tenderproses voorkeur gee aan militêre veterane, mense met gestremdhede, die jeug, vroue en swart mense.

Meer oor:  Sanral  |  Staatsondernemings  |  Tolpaaie  |  Bemagtiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.