Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Santam betaal R1 mjd. – maar stry steeds oor eise
Santam hou voet by stuk oor hoekom hy nie eise vir sake-onderbreking tydens die Covid-19-pandemie wil betaal nie. Foto: Pixabay

Santam gaan tot R1 miljard aan maatskappye wat weens die Covid-19-pandemie moes sluit, maar daar is ’n kinkel in die kabel.

Die versekeraar sê dit is om klein en middelslag-kommersiële polishouers in die gasvryheids-, ontspannings- en nie-noodsaaklike kleinhandeldienstesektor in dié “moeilike tye” by te staan, en nie omdat hy toegee dat sy interpretasie van sy beleid verander het nie.

Hy stel dit ook baie duidelik dat groot korporatiewe kliënte “weens die omvang en ingewikkelde aard van versekeringspolisse vir sulke ondernemings” by dié betaling uitgesluit word.

Lizé Lambrechts, die Santam-groep se uitvoerende hoof, sê Sondag in ’n verklaring dat die maatskappy erken dat dit uiters moeilike tye vir ondernemings is en dat hy “vasbeslote is” om sy polishouers by te staan.

“Die verligting is die resultaat van Santam se voorstel aan die reguleerders om ’n manier te vind om polishouers in hierdie moeilike tye te help. Die maatskappy sal vanaf die eerste week van Augustus 2020 met die verligting begin,” lui die verklaring.

Lambrechts sê in 'n onderhoud met Netwerk24 dat die betalings nié as eise gesien moet word nie, maar eerder as finansiële verligting. 

Santam het sedert die uitbreking van die pandemie erg onder skoot gekom omdat hy juis nie eise wou betaal vir sake-onderbreking (SO) weens die Covid-19-pandemie nie.

Sy argument was dat hoewel Covid-19 die “onmiddellike oorsaak” kan wees vir die bedrywighede wat tot stilstand gedwing is, is die inperking die “tussenkomende oorsaak”.

’n Tussenkomende oorsaak verbreek die regstreekse verband tussen die onmiddellike oorsaak en die sluiting van ondernemings tydens die inperking.

Santam sê die inperking het veroorsaak dat aktiwiteite landwyd gestaak is, ongeag of ’n onderneming bevestigde Covid-19-gevalle gehad het of nie, en dat dit daarom ’n ekonomiese verlies is.

“Daar is ’n onderskeid tussen ’n ekonomiese verlies en ’n versekerde verlies. Dit sal nie billik wees om van

die versekeringsbedryf te verwag om die ekonomiese verlies van die land te onderskryf nie,” het Mokaedi Dilotsothle, hoof-bemarkingsbeampte van Santam, voorheen gesê.

LEES OOK: Santam: Dis hoekom ons eise vir pandemie teenstaan

Santam verduidelik in die verklaring dat die R1 miljard wat hy wel nou bereid is om te betaal, is gelyk aan 70% van die waarde van twee maande van die versekerde bedrag vir Santam se polishouers in die geïdentifiseerde bedrywe.

“Die twee maande is ’n aanduiding van die tydperk waarin die meeste ondernemings geraak is deur die beperkende handelsomgewing toe vlak 4 en 5 van die staat van inperking van krag was.

“Die 70% is gegrond op die siening dat ondernemings veranderlike kostebesparings tydens die afsluitings sou gehad het. Die verligting word vasgestel op ’n minimum van R25 000 en ’n maksimum van R1,5 miljoen vir individuele polishouers wat dekking vir sake-onderbreking het,” lui die verklaring.

Om vir ’n betaling in aanmerking te kom moet polishouers wat aan die volgende kriteria voldoen, ’n eis registreer:

  • Hulle moet bedrywig wees in die bedrywe wat geïdentifiseer is vir verligting;
  • Hulle moet ’n Santam-kommersiële of Santam-gasvryheids- en ontspanningsbeleid hê;
  • Hul beleid moet die SO-uitbreiding hê;
  • Die SO-uitbreiding moes voor 18 Maart 2020 uitgeneem gewees het;
  • Die beleid moet steeds van krag wees;
  • Die polishouer moet ’n eis geregistreer het; en
  • Hulle mag nie ’n noodsaaklike diensverskaffer wees wat toegelaat word om handel te dryf tydens die staat van inperking nie.

Santam stel dit egter duidelik dat sy besluit om dié betaling te maak, “geen invloed op die versekeraar se pogings het om regsprekendheid te verkry oor die interpretasie van die beleid deur die howe nie”.

Lambrechts sê in die verklaring dat “ons oortuig is dat die bewoording van ons SO-beleid baie spesifiek is en slegs ondernemings dek vir onderbrekings as gevolg van die uitbreek van ’n siekte op plaaslike vlak, of binne ’n spesifieke radius”.

Die saak word op 1 September in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor.

Santam het ook reeds op 1 Junie opgehou om pandemies te dek.

Volgens Insurance Claims Africa beteken dit as restaurante en hotelle nou weer gaste ontvang, sal hulle nie gedek wees wanneer hulle Covid-19-gevalle op hul persele het en moet sluit nie.

Santam het gesê dit is omdat die herversekeraars opgehou het om pandemies te dek dat hy nie kan voortgaan om die voordeel te bied nie.

* Die artikel is opdateer na afloop met 'n onderhoud met Lambrechts. 

Meer oor:  Santam  |  Lizé Lambrechts  |  Versekering  |  Restaurante  |  Sake-Onderbreking  |  Covid-19  |  Eise
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.