Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Santam brei uitbetalings vir sake-onderbreking uit

Santam gaan nie net alle eise vir sake-onderbrekings aan die gasvryheidsbedryf uitbetaal nie, hy het nou ook ingestem om aan derduisende ander ondernemings uitbetalings te doen.

Santam se hoofkantoor in Bellville, Kaapstad. Ondernemings buite die gasvryheidsbedryf gaan ook nou versekeringsgeld ontvang indien hulle teen pandemies verseker is. Foto: Estate Living

Dit beteken enige kliënt met ’n geldige eis vir sake-onderbrekings met pandemiedekking by Santam gaan eersdaags begin uitbetalings ontvang.

Maar dit is dalk nie die uitbetaling wat ondernemings verwag nie.

Santam sê sy besluit raak ongeveer 4 000 bykomende ondernemings bo en behalwe die 1 300 gasvryheidsondernemings wat reeds regstreeks deur die vele hofsake waarin versekeraars al verwikkel was, geraak is.

Santam sê hy het die besluit geneem nadat hy die relevante hofuitsprake noukeurig deurgegaan en agtergekom het daar word ’n presedent gestel om uitbetalings aan almal, nie net in die gasvryheidsbedryf nie, te maak.

“Ná verdere gesprekke met belanghebbendes het Santam tot die gevolgtrekking gekom dat die kern van die uitsprake in dié sake in beginsel op alle polisse met sake-onderbrekingsdekking toegepas kan word.”

Santam sê hy het wel die finansiële vermoë om alle eise uit te betaal, en het nou bykomende hulpbronne ingespan om die uitbetalings te bewerkstellig.

Lizé Lambrechts, uitvoerende hoof van Santam, sê: “Ons is verheug dat ons ’n punt bereik het waar ons ’n vlak van regsekerheid het wat ons in staat stel om so vinnig as moontlik met die beoordeling en afhandeling van alle geldige sake-onderbrekingseise voort te gaan.”

Santam het keer op keer gesê hy soek “regsekerheid” voordat hy eise uitbetaal.

Santam sê hy gaan nietemin voort met sy appèlaansoek om die uitspraak in die saak van Ma-Afrika Hotels en Stellenbosch Kitchens teen te staan. Hy is nie tevrede met die hofuitspraak dat dekking vir sake-onderbrekings vir 18 maande geld nie. Santam wil net vir drie maande uitbetaal, ongeag wat ’n volbank regters bevind het billik sou wees.

Ondernemings het in baie gevalle dekking vir meer as drie maande, en die hofuitspraak het bevind dat 18 maande billik sou wees gegewe die ontwrigting wat die staat van inperking meegebring het.

Dié tydperk is hoogstens net van toepassing op gasvryheidsondernemings, meen Santam.

Intussen het baie ondernemings weens die gesloer met eise gevou.

“Die proses om regsekerheid vas te stel, het miskien lank gevoel, maar dit is so vinnig as moontlik afgehandel ter wille van duidelikheid vir kliënte, versekeraars en herversekeraars. Die ongekende omstandighede van die pandemie het dit van kritieke belang gemaak om die proses deur te gaan om die onsekerhede waarvoor ons almal te staan kom, beslissend op te los,” sê Lambrechts.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.