Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Santam: Dis hoekom ons eise vir pandemie teenstaan

“Ons het werklik hieroor gewroeg,” sê Asher Grevler, hoof-risikobeampte van Santam, oor die besluit om versekeringseise te weier van ondernemings wat gedwing is om hul deure tydens die inperking te sluit.

 Asher Grevler
Asher Grevler van Santam.

Santam en ander korttermynversekeraars wat dekking bied vir ondernemings waarvan bedrywighede onderbreek word, het die toerisme- en hotelbedryf se grootste vyand geword ná hul besluit om eise wat ontvang is weens die inperking, nié goed te keur nie.

LEES OOK: Só ‘spoeg versekeraars in die gesig van toerisme’

Santam word reeds deur van sy kliënte voor die hof gedaag. Hy sê die hofsaak wat op 1 September in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aangehoor gaan word, sal baie duidelikheid oor die kwessie verskaf.

Grevler sê Santam het pandemies gedek voor Covid-19 en omdat dit elke 30 tot 40 jaar plaasvind, is dit onderskryf.

“As jy ’n restaurant bedryf en verplig word om te sluit oor byvoorbeeld ebola sal jy gedek word.

“Maar hierdie situasie het ons nog nooit gedek nie, want ons het nooit verwag dat die hele land ingeperk sou word nie.”

Santam het op 1 Junie opgehou om pandemies te dek.

Volgens Insurance Claims Africa beteken dit as restaurante en hotelle nou weer gaste ontvang, sal hulle nie gedek wees wanneer hulle Covid-19-gevalle op hul persele het en moet sluit nie.

Santam het gesê dit is omdat die herversekeraars opgehou het om pandemies te dek dat hy nie kan voortgaan om die voordeel te bied nie.

Mokaedi Dilotsothle, hoof-bemarkingsbeampte van Santam, sê die maatskappy het op talle vergaderings oor die besluit gedink.

Volgens hom was die gevolgtrekking dat die beginsel van versekering nie agterweë gelaat kan word dat versekeraars net aanspreeklik is vir die spesifieke gebeurtenis wat hulle verseker nie.

“Die beginsels moet bly staan. So graag as wat ons wens ons kan ’n towerstaf swaai en die eise betaal, moet die beginsel van die onmiddellike oorsaak, wat ’n vasgestelde beginsel in versekering is, geld.”

Santam is steeds besig om sy antwoordende eedsverklaring vir die hofsaak te finaliseer.

Sy argument is hoewel Covid-19 die “onmiddellike oorsaak” kan wees vir bedrywighede wat tot stilstand gedwing is, is die inperking die “tussenkomende oorsaak”.

’n Tussenkomende oorsaak breek die direkte verband tussen die onmiddellike oorsaak en die sluiting van ondernemings tydens die inperking.

Santam se kliënte het in hul eedsverklaring betoog sonder Covid-19 sou daar geen inperking gewees het nie.

Santam sê egter die inperking het veroorsaak dat aktiwiteite landwyd gestaak is, ongeag of ’n onderneming bevestigde Covid-19-gevalle gehad het of nie en dat dit daarom ’n ekonomiese verlies is.

“Daar is ’n onderskeid tussen ’n ekonomiese verlies en ’n versekerde verlies. Dit sal nie billik wees om van die versekeringsbedryf te verwag om die ekonomiese verlies van die land te onderskryf nie.”

Volgens Santam is ’n versekeringskema wat deur die regering onderskryf word, soos Sasria, meer geskik om sulke buitengewone gebeure te dek wat tot ekonomiese verliese lei.

Dilotsothle sê dit is nie waar dat Santam nie eise uitbetaal nie.

“Daar is sekere eise wat ons betaal wat ontstaan het voor die inperking.

Hy sê die versekeraar het nooit eise van die slagoffers van die Knysna-brande, die oorstromings in Johannesburg en boere in droogtegeteisterde gebiede ontwyk nie omdat die oorsaak van hul verliese direk was en die polis se bewoording duidelik is daaroor. – Fin24

Meer oor:  Santam  |  Covid-19  |  Eise  |  Korttermynversekering  |  Pandemie  |  Versekering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.