
Santam se hoofkantoor in die Kaapstad. Foto: Reuters
Santam moet die versekeringseise betaal van ondernemings wat gedwing is om hul deure tydens die staat van inperking te sluit.
Dit kom nadat die hooggeregshof in Kaapstad Dinsdag met koste in die guns van Ma-Afrika Hotels en Stellenbosch Kitchens beslis het.
Ma-Africa Hotels en Stellenbosch Kitchens het die eis saam met Insurance Claims Africa (ICA) ingedien.
Fin24 berig ’n volbank regters het in ’n uitspraak van 42 bladsye beslis dat die versekeraar Ma-Afrika se eis moet betaal.
“Die aansoekers het bewys dat hulle ’n bestaande kontraktuele reg het ingevolge die bepalings ten opsigte van aansteeklike siektes,” lui die uitspraak.
ICA en Ma-Afrika het Dinsdag in ’n gesamentlike verklaring gesê dat hulle die uitspraak verwelkom.
Santam het aangevoer hy hoef nie die eise te betaal nie, want hoewel die koronaviruspandemie die “onmiddellike oorsaak” was waarom die ondernemings se bedrywighede tot stilstand gedwing is, was die staat van inperking die “tussenkomende oorsaak”.
’n Tussenkomende oorsaak verbreek die regstreekse verband tussen die onmiddellike oorsaak en die sluiting van ondernemings tydens die inperking.
Santam het aangevoer die inperking het veroorsaak dat aktiwiteite landwyd gestaak is, ongeag of ’n onderneming bevestigde koronavirusgevalle gehad het, en dat dit daarom ’n ekonomiese verlies is.
“Daar is ’n onderskeid tussen ’n ekonomiese verlies en ’n versekerde verlies. Dit sal nie billik wees om van die versekeringsbedryf te verwag om die ekonomiese verlies van die land te onderskryf nie,” het Mokaedi Dilotsothle, bemarkingshoof van Santam, voorheen gesê.
Lizé Lambrechts, uitvoerende hoof van Santam, het voorheen in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê pandemies is nie “versekerbaar” nie.
“Daar is nie genoeg premies en kapitaal in die bedryf beskikbaar om maatskappye te verseker teen ’n pandemie soos wat tans heers nie.”
Santam het reeds van Junie af die bewoording op sy polisse verander sodat hy nie pandemies dek nie.
Hy het einde Julie aangekondig hy gaan tot R1 miljard aan maatskappye gee wat weens die pandemie moes sluit.
Hy het gesê dit is om klein en middelslag- kommersiële polishouers in die gasvryheids-, ontspannings- en nienoodsaaklike kleinhandeldienstesektor in dié “moeilike tye” by te staan, en nie omdat hy toegee dat sy interpretasie van sy beleid verander het nie.
Hy het dit ook baie duidelik gestel dat groot korporatiewe kliënte “weens die omvang en ingewikkelde aard van versekeringspolisse vir sulke ondernemings” by dié betaling uitgesluit word.
Santam het in Julie erken dat hy dit wel kan bekostig om al die eise te betaal.
Hy het in ’n handelsverklaring wat op die JSE se nuusdiens, Sens, gepubliseer is, gesê dat sy balansstaat die eise sal kan “hanteer” indien die hofsaak sou misluk en hy wel moes uitbetaal.