Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Santam: Pandemie-eise vreet wins op

Santam was nie werklik gereed vir die massiewe eise vir sake-onderbrekings weens die pandemie nie, en die agteruitgang in sy wins op grond van nog net die verwagte eis-totale, wys hoe groot die impak op sy sake was en gaan wees.

Santam se hoofkantoor in Bellville, Kaapstad. Foto: Estate Living

Santam se wins het met 87,2% gedaal tot R239 miljoen in die jaar tot einde Desember, hoofsaaklik weens die R3 miljard wat hy solank opsygesit het vir die uitbetaling van pandemie-eise.

Lizé Lambrechts, uitvoerende hoof, het aan Netwerk24 gesê daar was verskeie faktore wat die wins negatief beïnvloed het, maar indien die R3 miljard wat vir pandemie-eise opsygesit is, bygereken word, “sou die maatskappy se wins gegroei het”.

Santam, wat Donderdag sy voljaarresultate vir 2020 uitgereik het, het in 2019 ’n wins van R1,871 miljard gemaak.

Die R3 miljard wat hy bereken het hy sal nodig hê om pandemie-eise ingevolge ’n hofbevel uit te betaal, is egter op baie aannames gegrond.

Volgens Lambrechts is een van die aannames dat dekking vir sake-onderbreking weens die pandemie net vir drie maande uitbetaal sal word.

Die hooggeregshof in Kaapstad het in Desember bevind dat Santam sy kliënte 18 maande se dekking verskuldig is, op grond van ’n rasionele mens se verstaan van die polis.

Santam het egter aansoek om verlof tot appèl hierteen gedoen en dit is verlede week aan hom toegestaan.

Indien sy appèl slaag, kan die R3 miljard dalk selfs verlaag word, maar Lambrechts sê as hulle verloor, kan die bedrag noemenswaardig styg.

Dit sal ’n wesenlike uitwerking op sy resultate vir 2021 hê.

Nog ’n onsekerheid is presies hoeveel ondernemings gaan eis en hoeveel Santam se herversekeraars uiteindelik bereid sal wees om te dek.

Santam se kontantreserwes is reeds onder druk.

In syfers:
  • Netto wins: -87,2% van R1,871 miljard tot R239 miljoen
  • Inkomste: +2,27% van R25,332 miljard tot R25,906 miljard
  • Wesensverdienste per aandeel: -47% van R20,69 tot R11
  • Totale eise uitbetaal: +11,6% van R18,9 miljard tot R21,2 miljard

Sy kontantsaldo het in 2020 tot R2,036 miljard gedaal ondanks ’n nuwe lening van R1 miljard om onder meer kontantreserwes aan te vul.

Lambrechts sê egter sy is trots daarop dat Santam steeds daarin geslaag het om sy inkomste in 2020 te laat toeneem, van R25,3 miljard tot R25,9 miljard.

Dit is hoofsaaklik gedryf deur die 7%-groei in betaalbare premies.

Maar Santam het ook baie meer eise uitbetaal en verligting aan kliënte gebied.

Daar is altesame R21,1 miljard se eise in 2020 uitbetaal, meer as 10% meer as 2019 se R18,9 miljard.

Lambrechts sê dit was veral ’n handjievol korporatiewe kliënte se enorme eise wat hierdie styging gedryf het.

Maar Santam het ook miljoene rande verloor in premie-verligting aan veral motorversekeringskliënte.

Omdat so baie mense minder gery het tydens veral die harde staat van inperking, het Santam sy premies tydelik verminder afhangend van hoe baie gery is.

Uiteindelik het dit gelei tot ’n 47%-daling in Santam se wesensverdienste per aandeel.

Een van die grootste faktore was egter die laer onderskrywingsmarge en beleggingsopbrengste.

Die netto onderskrywingsmarge het geval tot 2,5% – onder die langtermynteiken van tussen 4% en 8% van netto premie-inkomste.

Dit beteken dat Santam minder as 2,5c in sy sak steek vir elke R1 wat polishouers aan premies betaal het. Die res gaan vir administrasiekoste en die uitbetaling van eise.

Santam kon ook nie naastenby so baie van sy inkomste belê soos normaalweg nie omdat die hoër uitbetalings en laer rentekoerse in 2020 dit gekniehalter het.

Weens die onsekerhede oor die pandemie-eise, het die direksie besluit om kontantreserwes te bewaar en nie ’n dividend uit te keer nie.

Santam het in 2019 R7,18 per aandeel uitgekeer.

    Meer oor:  Santam  |  Sake-Onderbreking  |  Wins  |  Gasvryheidsbedryf  |  Premies  |  Resultate  |  Pandemie-Eise  |  Toerisme  |  Versekeraars
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.