Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Santam: Pandemies is nie ‘versekerbaar’ nie
Lizé Lambrechts, uitvoerende hoof van Santam Foto: Argief

Dit is nie moontlik om maatskappye teen pandemies soos Covid-19 te verseker nie.

“Daar is nie genoeg premies en kapitaal in die sektor beskikbaar om maatskappye te verseker teen ’n pandemie soos wat tans die geval is nie,” sê Lizé Lambrechts, uitvoerende hoof van Santam.

Sy het Sondag in ’n onderhoud aan Netwerk24 verduidelik hoekom die versekeraar besluit het om tog R1 miljard aan “finansiële hulp” aan veral kleinsake in die gasvryheidsbedryf beskikbaar te stel.

Sy het uitdruklik gesê dat die hulp nie eise is wat uitbetaal word nie.

LEES OOK: Santam betaal R1 mjd. – maar stry steeds oor eise

Santam hou voet by stuk dat sy premies wat wel dekking vir sake-ontwrigting (SO) insluit, baie spesifiek is oor wat gedek word. ’n Verlies aan inkomste weens ’n pandemie word luidens Santam nie gedek nie.

Sy argument was dat hoewel Covid-19 die “onmiddellike oorsaak” kan wees vir die bedrywighede wat tot stilstand gedwing is, is die inperking die “tussenkomende oorsaak”.

’n Tussenkomende oorsaak verbreek die regstreekse verband tussen die onmiddellike oorsaak en die sluiting van ondernemings tydens die inperking.

Santam sê die inperking het veroorsaak dat aktiwiteite landwyd gestaak is, ongeag of ’n onderneming bevestigde Covid-19-gevalle gehad het of nie, en dat dit daarom ’n ekonomiese verlies is.

Lambrechts verduidelik dat as ’n onderneming byvoorbeeld moes sluit omdat ’n geval geïdentifiseer is van iemand wat op die perseel was wat die virus onder lede het, dan het hulle wel ’n geldige eis.

Sy sê Santam het reeds eise van dié aard ontvang, en het dit uitbetaal.

Lambrecths wil nie besonderhede gee oor hoeveel eise Santam ontvang het nie. Dit is omdat die maatskappy tans in ’n geslote periode is voordat sy resultate vir die ses maande tot einde Junie bekend gemaak word.

Sy wou om dieselfde rede ook nie sê wat die invloed op Santam se resultate gaan wees weens die R1 miljard wat hy bereid is om te betaal nie.

Sy sê net dit is ’n “beduidende” bedrag en daar moes “diep in Santam se sakke gegrawe word” daarvoor.

Lambrechts sê hulle wag nog vir die hof om te beslis oor óf hulle die bewoording van hul polisse korrek interpreteer.

Die saak sal op 1 September in die hooggeregshof in Kaapstad gehoor word.

Sy sê die besluit om tog nou R1 miljard se verligting aan kliënte te bied, is omdat dit lank vat voordat die howe uitspraak oor sake soos hierdie lewer, en dat die maatskappy in die tussentyd sy kliënte wou help.

Sou die hof in die guns van Santam bevind, dat hy nié die eise hoef te betaal nie, sal die maatskappye wat wel nou geld as deel van die R1 miljard ontvang, dit kan behou.

Sou die hof egter teen Santam bevind, en maatskappye toegelaat word om wel eise in te dien, dan sal enige bedrae wat reeds betaal is, van die totale eis afgetrek word. Net die balans van só ’n eis – indien enige – sal dan betaal word.

Toekoms

Lambrechts sê die versekeringsektor het wêreldwyd baie uit die pandemie geleer.

“Daar sal gesprekke moet wees tussen die sektor, die reguleerder en die staat oor hoe pandemies soos hierdie in die toekoms gehanteer gaan word.

“Ons kan nie sê dat dit net een keer in 100 jaar gebeur nie. Ons weet nie wat die toekoms inhou nie.”

Sy sê daar is egter nie twyfel dat versekeraars nié die nodige kapitaal sal kan hou wat nodig gaan wees om ’n pandemie te verseker nie.

Lambrechts sê waaroor daar geen twyfel is nie, is dat hoewel Santam as versekeraar oortuig was daarvan dat die bewoording van sy polisse duidelik is, is daar tog onsekerheid.

Volgens haar sal daar beslis daarna gekyk word.

Sy sê sy is ook nie naïef om te dink dat die kwessie van die maatskappy wat nie eise uitbetaal nie, nié sy handelsmerk skade berokken het nie.

“Dit is glad nie lekker om in die media te hoor dat ons nie eise betaal nie. Ons is juis trots daarop dat ons eise betaal. Ons doen dit egter streng volgens die beginsels wat in die polisse uiteengesit word.”

Lambrechts sê hulle het nie gevind dat hulle kliënte weens hierdie kwessie verloor het nie.

Meer oor:  Santam  |  Lizé Lambrechts  |  Covid-19  |  Pandemies  |  Versekering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.