Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Saoedi’s red dalk Denel

Saoedi-Arabië stel belang om dele van Denel wat nie eens toiletpapier kan bekostig nie, te koop.

Pres. Cyril Ramaphosa en Salman bin Abdoelaziz al Saoed, koning van Saoedi-Arabië, op Ramaphosa se besoek aan dié land. Foto: Getty Images

Hulle stel glo veral daarin belang om in Denel Dynamics (DD), wat missiele en geleide wapens vervaardig, te belê.

Pres. Cyril Ramaphosa was in Julie in Saoedi-Arabië en het daarna aangekondig dat dié regering onderneem het om R17 miljard in Suid-Afrika te belê.

Adrian Lackay, woordvoerder van die departement van openbare ondernemings, het aan Rapport bevestig dat Saudi Arabian Military Industries (SAMI) met verskeie wapenvervaardigers in Suid-Afrika onderhandel met die oog op die aanskaffing van plaaslike tegnologie.

Lackay sê soortgelyke onderhandelinge is met China onderweg ná Ramaphosa se onlangse besoek aan dié land.

Volgens Lackay is die onderhandelinge egter nog in ’n vroeë stadium en geen spesifieke transaksies is nog gesluit nie.

Rapport het vroeër berig dat die nasionale tesourie geweier het om ’n verdere reddingsboei van R1 miljard aan Denel toe te staan vir “operasionele stabiliteit”. Die tesourie het gesê Denel moet eerder beleggers gaan soek wat bereid is om geld in die wapenvervaardiger te belê.

Intussen het die finansiële posisie van Denel só benard geraak dat hulle selfs in ’n memorandum aan werkers gesê het hulle moet maar hul eie toiletpapier werk toe neem.

Sommige werkers het einde September nie hul volle salaris gekry nie en dieselfde vooruitsig wink vir Oktober. Die vakbonde Solidariteit en Uasa het die afgelope week kennis gegee dat hul lede dié week gaan staak weens die salaris-onsekerhede.

’n Groot belegger in Denel kan die situasie drasties verbeter.

Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het die afgelope week ook na Saoedi-Arabië se belangstelling verwys en gesê die land sal die diplomatieke implikasies oorweeg. Saoedi-Arabië, ’n bondgenoot van Amerika, is betrokke by die bloedige oorlog in Jemen.

Helmoed-Römer Heitman, ’n militêre ontleder, sê die Saoedi’s wil die ontwikkeling van DD se hele portefeulje van veral missiele en geleide wapens tot op produksiestandaard verfyn en finansier.

In ruil wil hulle ’n gesamentlike Denel-SAMI-maatskappy vestig met die regte om die wapens aan die hele Midde-Ooste en Noord-Afrika te verskaf. “Sou die transaksie ’n werklikheid word, is dit ’n droomtransaksie wat DD en die res van Denel bykans oornag van goeie mediumtermyn- en toekomstige vooruitsigte sal voorsien.”

SAMI het aan Reuters gesê Denel sal ’n groot gedeelte van sy tegnologie moet oordra om sodoende te help om die wapenbedryf in dié land te help vestig. In ruil sal Saoedi-Arabië sy deure na bepaalde markte eksklusief vir Denel oopmaak.

SAMI sal in sy aanbod hope bykomende vermoë na Suid-Afrika gelei om sy eie leemtes te vul. Op dié manier sal daar ’n wedersydse oordrag van tegnologie plaasvind wat albei lande sal bevoordeel.

Volgens Heitman sal die uiteindelike besluit – juis weens die moontlike implikasies vir internasionale betrekkinge – deur die kabinet goedgekeur moet word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.