Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sasol dink steeds oor regte-uitgifte

Daar is nog geen definitiewe besluit oor of Sasol gaan voortgaan met ’n enorme regte-uitgifte of nie.

Fleetwood Grobler, uitvoerende hoof van Sasol. Foto: Elvira Wood

Fleetwood Grobler, uitvoerende direkteur, en Paul Victor, finansiële direkteur van Sasol, kon Dinsdag tydens ’n aanlyn gesprek met beleggers net sê dat hulle steeds die stap oorweeg.

“Ek weet almal wil weet of ons dit gaan doen, wanneer en wat die waarde daarvan gaan wees. Ons het ongelukkig nog nie ’n antwoord op hierdie vrae nie,” sê Victor.

Sasol het in Maart gesê dat hy ’n regte-uitgifte van tot $2 miljard oorweeg. Dit het toe sowat R35 miljard beloop, terwyl Sasol se markwaarde net R14 miljard was.

Die regte-uitgifte sou dus byna drie keer die markwaarde van Sasol beloop.

Dit was nadat die petrochemiese reus se aandeleprys tot net R17,35 op die JSE geval het in reaksie op dalende oliepryse en die impak van die Covid-19-pandemie op die wêreldekonomie.

Die aandeelprys het sedertdien tot R119,97 herstel.

Sy markwaarde beloop nou R77 miljard, terwyl ’n regte-uitgifte van $2 miljard teen die huidige wisselkoers sowat R31 miljard beloop.

Grobler en Victor sê dat hulle waarskynlik vroeg in 2021 ’n finale besluit oor die regte-uitgifte sal neem.

Hulle het albei herhaal dat die maatskappy baie goed vorder wat betref die beloftes wat hy in Maart gemaak het om sy enorme skuldlas onder bedwang te bring.

“Die pandemie en die ineenstorting van die olieprys kon nie op ’n slegter tyd gekom het vir Sasol nie,” sê Grobler.

Dit het juis gebeur net toe Sasol se hefboomfinansiering om sy petrochemiese aanleg buite Lake Charles in Louisiana te bou, op sy hoogste was.

Grobler wys daarop dat Sasol in November vanjaar die aanleg voltooi het en dat dit nou 100% in bedryf is.

LEES OOK: Sasol se Lake Charles eindelik klaar

Grobler het beleggers herhaaldelik verseker dat Sasol goed vorder om nie net op kort termyn sy balansstaat te stabiliseer nie, maar ook deur middel van sy Sasol 2.0-plan langtermynvolhoubaarheid te verseker.

Hy sê dit sal Sasol etlike jare neem om die plan volledig in werking te stel.

Hy sê van die tendense wat baie onseker is en wat die vordering met sy planne kan beïnvloed, is die wisselvallige makro-ekonomie en die druk om beslissende, dog vinnige stappe te doen om klimaatverandering teen te werk.

Victor sê sou hulle die doelwitte wat hulle gestel het binne die sperdatums behaal, hoop hulle om oor 18 maande weer dividende aan beleggers te begin betaal.

Besparings

Sasol het sedert Maart reeds miljarde rand gespaar, hetsy deur interne veranderinge by bedrywighede (sowat $1 miljard), of deur niekernbates te verkoop (sowat $3,5 miljard).

Van die planne wat hy het om in die komende jare nóg geld te spaar, is om te kyk of hy sy aanlegte net elke vyf jaar hoef af te skakel vir grootskaalse instandhoudingswerk. Dit word op die oomblik elke vier jaar gedoen.

Die maatskappy kan op hierdie manier tussen R2 miljard en R4 miljard per siklus spaar.

Sasol het ook onderneem om nie weer enige grootskaalse projekte soos Lake Charles op sy eie aan te pak nie.

Die maatskappy sê hy hoop om in die toekoms baie meer vennootskappe te sluit om op dié manier die nodige kennis vir projekte te bekom, maar om hom steeds finansieel te beskerm.

Nog ’n plan is om reg deur die jaar produksie by sy myne te handhaaf. Op dié manier hoop Sasol om nie net genoeg steenkool vir eie gebruik te ontgin nie, maar om selfs genoeg te hê sodat dit uitgevoer kan word.

Grobler het onderneem om die mark vir die volgende paar jaar elke ses maande op datum te bring met wat hul vordering is wat betref die skep van Sasol 2.0.

Sasol se aandeelhouers was duidelik beïndruk met die voorlegging, want sy aandeelprys het Dinsdagmiddag op die JSE 2,5% hoër op R120,26 verhandel.

Meer oor:  Sasol  |  Fondsinsameling  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.