Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sasol nie veel geraak deur onrus

Sasol sê hy het relatief ongeskonde afgekom van die onlangse plundery en vandalisme in Gauteng en KwaZulu-Natal.

Van sy vulstasies in die gebiede is wel beskadig, maar sy produksie-aanlegte is nie geraak nie, het Sasol in ’n produksie- en verkope-opdatering voor die bekendmaking van sy jaarresultate gesê.

Daar was wel uitdagings om brandstof na sy vulstasienetwerk te kon versprei weens die paaie wat gesluit was, maar dit is sedertdien opgelos, sê Sasol.

Chemikalieë

Sasol verwag beter inkomste uit sy chemiese afdeling in die boekjaar tot einde Junie.

Van Sasol se vulstasies in KwaZulu-Natal en Gauteng is in die onlangse plundery beskadig maar sy produksie-aanlegte is nie geraak nie. Foto: Sasol

Sasol maak eers op 16 Augustus sy jaarsyfers bekend, maar het Dinsdag aangedui hoër gemiddelde pryse vir chemikalieë het gehelp om tot hoër inkomste vir die boekjaar te lei. Die pryse was 17% hoër as ’n jaar gelede.

Die beter pryse het die negatiewe effek teengewerk van slegte weer in Noord-Amerika en Suid-Afrika, asook laer volumes weens die verkoop van sekere bedrywighede in Noord-Amerika.

Brandstof

Sasol se energie-afdeling het voordeel getrek uit ’n sterk herstel in die vraag na brandstof nadat Covid-19-inperkings verslap is. Hoër oliepryse in die tweede helfte van sy boekjaar het ook gehelp.

Brent-ruoliepryse het van onder $50 per vat in 2020 tot bo $70 per vat teen Junie gestyg namate internasionale olievraag herstel het soos wat ekonomieë van die Covid-19-pandemie herstel.

Plaaslik hou Sasol die vraag na brandstof fyn dop terwyl die Suid-Afrikaanse ekonomie nog deur die derde vlaag van die pandemie geknou word, asook die politieke onrus vroeër in Julie.

Sasol het die afgelope boekjaar tien nuwe vulstasies oopgemaak. Sy brandstofverkope was 54,2 miljoen vate, wat ooreenstem met sy verwagting van tussen 54 miljoen en 55 miljoen vate.

Dieselverkope het herstel tot beter as die vlakke voor die pandemie, hoewel petrolverkope nog op 90% tot 95% van die vlakke voor die pandemie is.

Aardgas

Sy verkope van aardgas in Suid-Afrika was 16% meer as ’n jaar gelede danksy groter vraag van groothandelaars en klante namate die inperkings verslap is. Sasol het in Februarie sy belang in ’n olie-aanleg in Gaboen in Wes-Afrika verkoop, en hy vorder met die verkoop van sy belang in die Montney-skaliegasprojek in Kanada.

Meer oor:  Sasol  |  Chemikalieë  |  Brandstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.