
Die suurstofaanleg in Secunda. Foto: Verskaf
Sasol het sy suurstofaanleg in Secunda vir R8,5 miljard aan Air Liquide verkoop.
Die aanleg, wat uit 17 lugskeidingseenhede bestaan, en wat ’n kapasiteit van tot 42 000 ton per dag het, bied suurstof vir Sasol se brandstof en chemiese produksieprosesse in Secunda. Dit produseer ook ander gasse wat op die aanleg gebruik word.
Sasol het 16 van die eenhede besit, terwyl Air Liquide, wat die aanleg reeds sedert 1979 bedryf, een eenheid besit het.
Sasol en Air Liquide het nou ’n langtermynooreenkoms onderteken waarvolgens Air Liquide gasse aan die aanleg in Secunda sal verskaf.
Die transaksie is onderhewing aan verdere noulettendheidsondersoeke, die afhandel van finale ooreenkomste, asook die goedkeuring deur die relevante owerhede.
Taki Nkhumeleni, waarnemende uitvoerende hoof van Air Liquide in Suid-Afrika, het die transaksie verwelkom.
Sasol sê in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, dat die verkoop van dié bate deel vorm van sy plan hoe om die invloed teen te werk van die laer olieprys en die Covid-19-pandemie op sy bedrywighede.
Sasol het reeds in Maart gesê dat hy ’n regte-uitgifte oorweeg, meer bates gaan verkoop en ’n moontlike vennootskap in Amerika oorweeg in ’n poging om binne die volgende twee jaar $6 miljard se opbrengste te genereer.
Die voorstelle is gemaak toe Sasol se aandeelprys op 9 Maart met 46% getuimel het weens die groot wisselvalligheid in die olieprys.
Fleetwood Grobler, uitvoerende hoof van Sasol, het toe gesê dat hulle hoop om meer as $2 miljard in te samel deur middel van bateverkope.
LEES OOK: Sasol: Ons gaan nie mense aflê nie
Sasol beklemtoon dat daar nog geen finale besluit geneem is oor of hy wel gaan voortgaan met die regte-uitgifte ter waarde van $2 miljard nie.
Die maatskappy het van die begin af gesê dit gaan alles afhang van hoe goed hy kontant kan bespaar en wat hy deur middel van bateverkope kan insamel.
Sasol het op 1 Julie aangekondig dat hy sy belang in die gas-tot-vloeistof-aanleg Escravos in Nigerië aan Chevron verkoop.
Hy het ook 51% van sy belang in ’n nuwe plofstofonderneming aan sy vennoot, Enaex, verkoop.
Sasol se aandeelprys begin Woensdag op die JSE teen R134 verhandel.