Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sasol wed nou op ’n globale toekoms

Die kaarte het reg geval vir Sasol met sy beter as verwagte halfjaarsyfers in ’n tyd waarin die petrochemiese reus eintlik al sy fokus op sy nuwe chemiese aanleg in die VSA plaas.

Sasol se Lake Charles- chemiese aanleg in Louisiana, Amerika, toe bouwerk nog nie so ver gevorderd was as nou nie. Foto: Sasol

Sasol het Maandag sy finansiële resultate vir die halfjaar tot einde Desember in Johannesburg bekend gemaak, met prestasies wat aansienlik verbeter het vergeleke met die maatskappy se verwagtings teen November 2018.

Volgens Stephen Cornell, uitvoerende direkteur en mede-president van Sasol, het die maatskappy suksesvol deur baie onstuimige makro-ekonomiese omstandighede gekom.

Sasol het vir die halfjaar tot einde Desember groei van 32% in sy wesensverdienste per aandeel aangeteken te danke aan onder meer ’n hoër olieprys en swakker rand.

Onderskeidelik het die verswakkende rand en die stygende olieprys 18% en 43% bygedra tot die groei in die maatskappy se bedryfswins van R20 192 miljoen, ’n styging van 26% teenoor dieselfde helfte van 2017.

Maar die maatskappy verwag nie dat die onstuimigheid in wêreldmarkte sommer vinnig gaan omkeer nie, en is dus besig om sy sakemodel aan te pas vir ’n toekoms waar dié faktore, en veral die prys van hulpbronne soos olie en steenkool, nie meer so ’n houvas op hom sal hê nie.

Strewe na ’n globale toekoms

Volgens Paul Victor, finansiële direkteur van Sasol, is 2019 die begin van ’n baie groter en ander soort toekoms vir die maatskappy.

“Ons wil nie net meer ’n Suid-Afrikaanse maatskappy wees nie, ons wil bitter graag ’n globale maatskappy word, en ’n maatskappy wat baie meer en uiteindelik hoofsaaklik op chemikalieë gefokus is,” sê Victor.

Sasol se Lake Charles- chemiese aanleg in die Amerikaanse deelstaat Louisiana is die maatskappy se eerste stap tot sy nuwe langtermyntoekoms.

Wanneer die projek in 2020 voltooi word, ná verskeie vertragings, sal Sasol die meeste van sy verdienste oorsee verdien.

Tans verdien die maatskappy 70% van sy inkomste in Suid-Afrika, maar wanneer Lake Charles op dreef is, sal dié verhouding tot 45% plaaslik en 55% oorsee verander.

Die projek se koste het wel aansienlik toegeneem weens die vertragings en ander probleme verwant aan die konstruksiewerk.

Die Lake Charles-projek gaan sowat 50% van Sasol se markkapitalisasie wees wanneer dit klaar is. As daai soort syfers nie jou kop gefokus kry nie, dan weet ek nie wat sal nie.
Bongani Nqwababa

Die nuwe beraming is dat die totale koste nou tussen $11,6 miljard en $11,8 miljard sal beloop, waar dit aanvanklik op $11,13 miljard geskat is.

Volgens Bongani Nqwababa, uitvoerende hoof, is 2019 ’n “hoogs deurslaggewende jaar vir die maatskappy”.

“Die Lake Charles-projek gaan sowat 50% van Sasol se markkapitalisasie wees wanneer dit klaar is. As daai soort syfers nie jou kop gefokus kry nie, dan weet ek nie wat sal nie.”

Die Lake Charles-projek is tans 94% voltooi, en $10,9 miljard is reeds daaraan bestee. Vir die 2019-boekjaar sal die nuwe kosteberaming dus ’n addisionele verlies op verdienste voor rente, belasting, depresiasie en afskrywing (ebitda) van tussen $165 miljoen en $195 miljoen beteken.

Sasol se netto kontantposisie is dus ietwat benadeel en het met 7% gekrimp, terwyl 85% van sy skuld nou in dollar gedenomineer is.

Beleggers is al ’n geruime tyd onseker oor die Lake Charles-projek, maar Victor meen dat die aanleg die toekoms van die maatskappy is, en dat grootskaalse verandering grootskaalse investering vereis.

“Die sowat $11 miljard se besteding aan Lake Charles is 50% uit ekwiteit en 50% uit skuld gefinansier. Wanneer daardie aanleg volgende jaar volledig aanlyn is, en sowat $1,3 miljard jaarliks genereer, kan ons die skuld binne net vier jaar afbetaal.

“Dit is hoe goeie skuld lyk – skuld vir langtermyngroei-doeleindes,” sê Victor.

Hy sê voortdurende gesprekke met kredietgradeerders dui daarop dat die langtermynvisie en -risikobestuur van die projek nie Sasol se gradering negatief sal beïnvloed nie.

Lees meer: Petrolprys: Nog ’n week, nog slegte nuus!

Olie laat geld inrol

Hoewel Sasol daarna mik om die grootste deel van sy onderneming in gevorderde chemikalieë te vestig, is olie vandag steeds ’n enorme deel van sy onderneming.

Sasol vervaardig olie teen ’n koste van $35 per vat, en teen sy geskatte gemiddelde olieprys van om en by $60 per vat vir 2019 is daar ’n stewige winsgrens ingebou.

Die halfjaarsyfers wys dat die verkope van vloeibare brandstof met 4% gestyg het tot en met Desember, en tesame met stygende verkooppryse het dit die maatskappy se verdienste per aandeel met 112% laat styg.

Maar Victor meen ook dat die maatskappy se goed bestuurde bedryfskoste wesenlik bygedra het tot Sasol se goeie halfjaar-prestasie.

Vir die halfjaar tot einde Desember het vaste kontantkoste met net 4,3% toegeneem, wat 1,7% onder die maatskappy se 6%-inflasieteiken is.

Victor meen vir ’n maatskappy wat tans so ingestel is op die toekoms is dié resultate merkwaardig.

Dividend danksy einde van Jan Taks-stryd

Vir die eerste keer “in ’n lang tyd” kon Sasol ook weer ’n stewige dividend aan sy aandeelhouers uitbetaal. Die halfjaarsyfers sluit in dat Sasol op 18 Maart ’n dividend van R5,90 per aandeel sal uitbetaal, 18% meer as die vorige dividend van R5.

Dié onverwagte bonus vir aandeelhouers is gedeeltelik moontlik gemaak deur Sasol se oorwinning in die appèlhof teen die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

In November het die appèlhof in Bloemfontein bevind dat die SAID nié ’n ekstra R1,3 miljard van Sasol kan eis nie.

Sasol en die SAID is lank reeds in ’n stryd gewikkel oor die petrochemiese reus se filiaal Sasol Oil se internasionale olieaankope tussen 2005 en 2014.

Sasol Oil bedryf saam met die Franse oliereus Total die Natref-olieraffinadery by Sasolburg in die Vrystaat.

Die appèlhof het in November bevind daar was nie gronde vir die SAID se eis nie.

Die vooruitsig van sukses as die SAID enigsins die saak verder probeer vat, is nul.
Paul Victor

Dié geld is nou weer aan Sasol beskikbaar, waar hy aanvanklik voorsiening gemaak het vir die uitgawe in sy finansiële state van 2018.

Victor sê toe die SAID die saak konstitusionele hof toe probeer neem het, het die hof bevind dit het geen meriete nie, en ook “die vooruitsig van sukses as die SAID enigsins die saak verder probeer vat, is nul”.

Sasol wag nog op die finale besluit van die SAID, maar volgens Victor is die maatskappy nie meer daaroor bekommerd nie.

Vooruitsig

In terme van die maatskappy se algehele posisie, is Victor baie positief.

“Ons is amper daar. Teen volgende jaar hierdie tyd gaan ons in ’n baie positiewe posisie wees; die kontant gaan vloei, die skuld gaan afbetaal word, en ons voel dis waar Sasol erkenning sal begin kry vir ’n strategie wat op die langtermyn-lewensvatbaarheid van die maatskappy se toekoms gerig is.

“Ná al die moeilike jare gaan dit goed wees om te sien.”

Meer oor:  Said  |  Sasol  |  Aanleg  |  Brandstof  |  Aandeelhouers  |  Olieprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.