Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAUK-raadslid se bedanking bevestig
Bernedette Muthien

Ná maande se bespiegeling het Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie en digitale tegnologieë, bevestig dat Bernedette Muthien as raadslid van die SAUK bedank het.

Muthien het reeds in Junie haar bedanking indien. Die rede vir haar bedanking is nie bekend nie.

Ndabeni-Abrahams het dit egter eers nou aan die parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie bevestig.

Volgens die DA is dit onaanvaarbaar dat sy so lank daarmee gewag het.

“Dit is net nog ’n voorbeeld van die minister se gebrek aan hoflikheid en volslae miskenning van die parlement,” het Phumzile van Damme, DA-LP, gesê.

Die party gaan vra dat Muthien voor die komitee, waarin Van Damme ook dien, verskyn om redes vir haar bedanking te verskaf.

“Daar word dikwels van die parlement verwag om verantwoordelikheid te neem vir die gemors en die chaos by die SAUK. Enige moontlike kwessies moet dadelik in die kiem gesmoor word, maar dit kan net gedoen word as die parlement betyds ingelig word.

“Enige geheimhouding belemmer die parlement se vermoë om toesig te hou.”

Grootskaalse afleggings dreig steeds by die openbare uitsaaier. Nagenoeg 600 heeltydse werknemers en 1 200 vryskutte het vroeër vanjaar art. 189-kennisgewings gekry, of is ingelig dat hul kontrakte nie hernu word nie.

Die afleggingsproses is nog nie afgehandel nie.

Verlede jaar het die regering die beplande aflegging van 981 mense gestuit ná besware deur vakbonde op wie se steun die ANC in verkiesings staatmaak.

“Die DA hoop Muthien sal die parlement en die publiek in haar vertroue neem en die redes vir haar bedanking gee. Dit sal help om enige ernstige kwessies (sou daar enige wees) by die SAUK bloot te lê.”

Volgens Van Damme dui bedankings van raadslede van die SAUK dikwels op groter probleme by die openbare uitsaaier.

“As daar stappe gedoen kan word om te keer dat die SAUK weer in ’n krisis verval, moet dit gou gebeur.”

Die staat het verlede jaar ’n hulppakket van R3,2 miljard aan die SAUK toegeken, waarvan die laaste R1,1 miljard in Maart oorbetaal is. Die geld is gegee op voorwaarde dat die uitsaaier ’n omkeerplan in werking stel.

Die SAUK het weer in Augustus weens ’n verlies aan inkomste in die koronaviruspandemie om bykomende geldhulp by die regering gaan aanklop. Die uitsaaier het aansoek gedoen vir bykomende finansiering van sowat R1,5 miljard weens ’n geprojekteerde inkomsteverlies van R1,5 miljard.

Die geld is sover bekend nog nie toegestaan of oorbetaal nie.

Muthien, wat ook in die raad van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad dien, is in April 2019 saam met sewe ander deur pres. Cyril Ramaphosa as raadslede van die SAUK aangestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.