Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAUK kla wet gaan hom te veel kos

Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) sal “baie negatief” geraak word deur wetswysigings wat voorgestel word om die regte van vermaaklikheidskunstenaars te beskerm.

Die SAUK sê hy het in 1997 oor voorwaardes met kunstenaars onderhandel sodat hulle beter vergoed word.

Die SAUK is nie tevrede dat kopiereg op oudiovisuele inhoud vir 25 jaar aan ’n vermaaklikheidskunstenaar toegeken word nie. Dit impliseer ’n ooreenkoms van 25 jaar om tantième te betaal, sê dr. Mathapelo Matsaneng, regsadviseur oor intellektuele eiendom vir die SAUK, wat Vrydag namens die SAUK oor die Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Kunstenaars in die parlement gepraat het.

“Die doelwitte wat die wetsontwerp wil bereik, is edel, maar die SAUK is besorg oor die oordrag van regte, wat lyk asof dit eksklusiewe regte aan ’n kopiereg-eienaar besorg. Selfs met die oordrag van ’n oudiovisuele werk moet daar nou ’n geskrewe ooreenkoms wees wat 25 jaar geld.

“Wat die wetsontwerp dus sê, is dat jy vir 25 jaar gebind gaan wees in ’n verhouding met ’n vermaaklikheidskunstenaar. Waarom moet ons 25 jaar volgehoue tantième betaal as die kunstenaar reeds vir sy werk vergoed is? Dit is ’n kontrak wat deur kontrakreg gereguleer moet word.”

Die bestaande wet op die beskerming van vermaaklikheidskunstenaars se regte is in 1967 goedgekeur en dit is die eerste keer dat dié wet gewysig word, het Joanmaria Ftubbs, voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor handel en nywerheid, gesê.

Die uitvoerende hoof van die SAUK behoort self na die komitee te kom om oor die wetgewing te praat en sal gedagvaar word om te kom getuig as hy nie vrywillig kom nie, het Fubbs gesê.

Die SAUK het al in 1997 oor kontrakte ooreengekom tussen die SAUK en ’n vakbond vir vermaaklikheidskunstenaars genaamd PAWE wat intussen al ontbind het, het Matsaneng verduidelik.

Kunstenaars sterf as armlastiges, het sy erken.

Die SAUK het egter al in 1997 oor voorwaardes met kunstenaars onderhandel sodat hulle beter vergoed word. Die standaard-kunstenaarsooreenkoms het sedert 1997 nog nie verander nie.

Matsaneng vra of dit finansieel volhoubaar is as die SAUK vir 25 jaar tantième moet betaal.

“Wat gebeur wanneer die inhoud verkoop word, of as ’n kunstenaar sterf?

“Programme wat herhaal word, maak nie noodwendig groot bedrae geld nie. Daar is nie eens deeglike rekordhouding van herhalings nie. Kunstenaars hou die televisie dop en dien eise in by die SAUK sodra hulle sien hul vertoning word herhaal.”

Matsaneng sê die SAUK beveel aan dat die wet voorsiening moet maak om regte uit te koop en om die 25-jaar-tydperk ook uit te koop. Die voortdurende betaling van tantième is onvolhoubaar en onprakties, veral in gevalle waar die SAUK self opdrag gegee het vir die skep van die inhoud, meen sy.

Die wetsontwerp stippel uit dat kunstenaars ingelig word voordat hul inhoud weer gebruik word, maar Matsaneng glo dit sal nie altyd prakties wees om ’n kunstenaar in te lig elke keer as die inhoud wat hy of sy geskep het weer uitgesaai word nie.

Akteursverteenwoordigers wat Donderdag voor die portefeuljekomitee se openbare sitting oor die wetgewing gepraat het, was baie negatief oor die SAUK. Dean Macpherson, DA-lid van die komitee, het gesê dis duidelik waarom die SAUK nie gretig is om volgehoue tantième te betaal nie, want die uitsaaikorporasie is tegnies bankrot.

Meer oor:  Sauk  |  Parlement  |  Akteurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.