Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAUK, Poskantoor staan bakhand vir nóg miljarde

Verskeie staatsondernemings staan al weer bakhand vir byna R14 miljard se reddingsboeie van die staat.

Volgens die tesourie is die Poskantoor op ’n kritieke punt en kan dit ineenstort as die regering nie die entiteit herstruktureer nie.

Die wapenvervaardiger Denel vra R3,8 miljard om lenings af te betaal, waarvan sommige binne die volgende twee weke betaalbaar is.

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor het ’n versoek vir hulp van R4,9 miljard by die nasionale tesourie ingedien as deel van verligting weens Covid-19, het Ravesh Rajlal, hoofdirekteur vir toesig oor staatsondernemings by die tesourie, Dinsdag bekend gemaak.

Daarby kom ’n versoek vir R3,5 miljard van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) en ’n versoek vir R1,5 miljard van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK).

Dié hulp sal oorweeg word ingevolge die tesourie se kategorie vir onvoorsiene en onvermybare uitgawes, het Rajlal verduidelik.

Denel het aanvanklik nie vir hulp ingevolge Covid-19-verligting gevra nie, maar wel vir verslapte voorwaardes vir die geld wat reeds toegeken is om gewaarborgde skuld af te betaal, sodat R504 miljoen daarvan vir bedryfskapitaal gebruik kan word, het Rajlal aan die parlement se staande komitee oor toedelings gesê.

Maar Denel het wel pas vir hulp van R3,8 miljard gevra om skuld te betaal wat binne die komende weke betaalbaar word, het Rajlal gewaarsku.

Daar is geen nuwe geld vir staatsondernemings nie, en al dié hulp sal uit die bestaande begroting moet kom, het hy verduidelik.

Dis beter om te hoor die omdraaiplan is ingestel maar dit het misluk, as om te hoor die plan is nooit ingestel nie. Dit kom neer op ernstige pligsversuim.
Sfiso Buthelezi

Volgens Rajlal het die staat sedert 2001 al R187 miljard aan staatsondernemings gegee. Die meeste omdraaiplanne vir sukkelende ondernemings is egter nooit heeltemal in werking gestel nie.

Sfiso Buthelezi, voorsitter van die staande komitee oor toedelings, sê daar is niks so neerdrukkend as om te hoor staatsondernemings sukkel steeds en dat hulle nie hul omdraaiplanne in werking kon stel nie.

“Dis beter om te hoor die omdraaiplan is ingestel maar dit het misluk, as om te hoor die plan is nooit ingestel nie. Dit kom neer op ernstige pligsversuim.”

Daar was geen verwysing na die Suid-Afrikaanse Lugdiens, wat na verneem word R10 miljard nodig het om sy omkeerplan in werking te stel nie.

Eskom

Eskom het nie weer ekstra hulp gevra nie, maar verfris tans sy finansiële projeksies om die invloed van die pandemie en die kredietafgradering in ag te neem. Die staat het reeds R230 miljard oor tien jaar aan Eskom belowe, waarvan die uitbetaling versnel is.

Rajlal sê die tesourie druk dit hulle by sy weeklikse vergaderings met Eskom-bestuur dit telkens op die hart dat hulle sal moet klaarkom met die R56 miljard wat vir die lopende boekjaar beloof is, want daar is nie nog geld nie.

Acsa

Acsa is een van die min staatsondernemings wat dividende aan die staat verklaar, maar sy geldsake het weens die Covid-19-inperkings ’n kwaai insinking beleef, het Rajlal verduidelik. Acsa verwag ’n netto verlies van R5 miljard oor die volgende drie jaar, en het in die boekjaar tot Junie ’n verlies van R492 miljoen gely teenoor ’n wins van R380 miljoen ’n jaar gelede.

Acsa het vir ’n staatswaarborg van R3,5 miljard gevra vir ’n tydperk van drie jaar, maar sal nie sy gewaarborgde skuld sonder hulp van aandeelhouers kan terugbetaal nie, en het daarom aansoek gedoen vir ’n ekwiteit-inspuiting van R3,5 miljard, het Rajlal gesê. Die staat besit ’n 74,6%-belang in Acsa, met die Openbare Beleggingskorporasie wat 20% besit en minderheidsaandeelhouers wat die oorblywende 5,4% besit.

Denel

Denel het in sy boekjaar tot Maart ’n verlies van R1,8 miljard gely en Covid-19 het sy geldknyp net vererger.

Hy kan nie salarisse betaal of die rente op sy skuld van R3,415 miljard nie. Daar is ’n wesenlike risiko dat hy in sakeredding of selfs likwidasie geplaas kan word, het Rajlal gewaarsku.

Poskantoor

Die Poskantoor het sedert 2006 al R3,6 miljard van die staat gekry vir sy universele diensverpligting en R7,5 miljard as herkapitalisasie, maar die onderneming is steeds in ’n slegte posisie.

Volgens die tesourie is die Poskantoor op ’n kritieke punt en kan dit ineenstort as die regering nie die entiteit herstruktureer nie.

Al die topbestuurders is tans in waarnemende poste, en die huidige direksie is nuut en het nog nie gewys hulle verstaan hul verantwoordelikheid nie.

Boonop het die departement van kommunikasie en digitale tegnologie, onder wie se toesig die Poskantoor val, nie genoeg gedoen om ’n nuwe sakeplan uit te werk nie.

Die konsep-wetsontwerp oor die Poskantoor is nog nie goedgekeur nie. Die departement sal dit moet oorweeg om die Poskantoor onder administrasie te plaas om dit behoorlik te kan herstruktureer.

Meer oor:  Poskantoor  |  Denel  |  Eskom  |  Acsa  |  Reddingsboeie  |  Staatsondernemings  |  Tesourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.