Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAUK verdwyn dalk van lug, maar nie voor stemdag
Een van die SAUK se buite-uitsendingseenhede by die Kaapstad-stadion. Foto: Getty Images

Die SAUK moet dringend bakhand by banke gaan staan omdat die broodnodige staatshulp aan die openbare uitsaaier eers teen September betaal gaan word.

Die SAUK waarsku dat sy finansiële verknorsing binnekort die opskorting van al sy TV-kanale en radiostasies kan beteken. Suid-Afrikaners kan egter gerus wees dat die SAUK die verkiesing Woensdag volledig sal dek.

Madoda Mxakwe, uitvoerende hoof van die SAUK, het in ’n onderhoud met die Sunday Times gesê die SAUK se finansiële situasie is so beroerd dat hy dalk eersdaags gaan moet ophou uitsaai.

Vuyo Mthembu, woordvoerder, het Maandag aan Netwerk24 bevestig die noodsaaklikheid om bykomende finansiering te bekom, is nou in ’n “kritieke fase” en dat ’n sogenaamde uitsaai-“blackout” heeltemal moontlik is.

In so ’n geval sal ál die SAUK se radio- en televisiedienste ophou uitsaai. Dit sluit in die SAUK se drie gratis televisiekanale sowel as al sy radiostasies en die nuuskanaal SABC News.

Mxakwe het aan die Sunday Times gesê die moontlikheid van ’n uitsaaidroogte is “op hande” tensy noodsaaklike geld dadelik bekom word.

Mthembu het by navraag nie uitgewei oor wat Mxakwe met “op hande” bedoel het nie. Sy het wel bygevoeg dat die SAUK steeds Woensdag sy “openbare mandaat” sal nakom deur die nasionale verkiesing regstreeks te dek.

Die openbare uitsaaier sou ook Maandag sy planne vir die verkiesing bekend maak.

Volgens Mthembu het die SAUK se bestuurspan in die laaste paar maande heelparty veranderinge aangebring wat gehelp het om meer inkomste te genereer.

Sy uitgawes oorskry egter steeds sy inkomste baie ver, sê Mthembu. Derhalwe kon die SAUK reeds van sy krediteure nie betaal nie, sê Mxakwe.

Die uitsaaier het by die tesourie aansoek gedoen om ’n ruim finansiële inspuiting van R6,8 miljard. Dit is egter nog nie oorbetaal nie.

Volgens Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, sal noodfinansiering vir staatsinstellings eers teen September beskikbaar wees.

Danksy dié versekering kan die SAUK egter intussen by handelsbanke gaan aanklop om ’n lening.

’n Spesiale komitee is reeds op die been gebring om die haalbaarheid van sulke lenings te ondersoek, sê die minister se woordvoerder, Nthabeleng Mokitimi-Dlamini.

“Die komitee het in April met die finansiële instellings vergader om die probleem van onmiddellike finansiering vir die SAUK te bespreek.”

Intussen vind verskeie interne ondersoeke plaas na beweerde ongerymdhede by die openbare uitsaaier. Dit sluit in etlike gevalle waar bestuurders sommerso bevorder is of ’n bonus betaal is al het hulle dit nie verdien nie.

Mthembu het bevestig tugverhore hieroor vind tans plaas.

Meer oor:  Sauk  |  Madoda Mxakwe  |  Nasionale Verkiesing  |  Stemdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.