Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Seeroetes korter, maar risiko's vir skepe al meer
Weens klimaatsverandering is daar nuwe skeepsroetes in die Arktiese gebied, maar die risiko vir botsings met ysberge het ook hoër geword, waarsku versekeraars. Foto: Getty Images

Versekeraars vrees snelveranderende seetoestande in die Arktiese See en die Noord-Atlantiese Oseaan verhoog die versekeringsrisiko van skepe en vrag.

Weens klimaatsverandering wat die pakys in van die Arktiese gebiede laat smelt, het nuwe skeepsroetes die afgelope paar jaar moontlik geword, wat die reistyd vir ’n vragskip tussen byvoorbeeld Suid-Korea en Frankryk met byna ’n week verkort. Pleks van deur die Middellandse See en die Suez-kanaal, kan skepe wat tussen Suidoos-Asië en Europa vaar, nou ’n korter roete via die noorde van Rusland volg, wat sowat 3 000 seemyl korter is. (Sien grafika hieronder.)

Die versekeraar AGCS waarsku egter klimaatsverandering veroorsaak ’n toename in ysberge wat suidwaarts dryf en ’n botsingsrisiko vir skepe inhou in gebiede wat nie voorheen dié risiko gehad het nie.

Vroeg vanjaar is ’n mylpaal vir Arktiese seevaart behaal toe ’n spesiaal ontwerpte vloeibare-aardgastenkskip die eerste handelsvaartuig was wat in die winter die noordelike seeroete sonder die hulp van ’n ysbreker aangepak het. Die Eduard Toll het van Suid-Korea na Montoir in Frankryk gevaar via Noord-Rusland.

Dit het gevolg op die vaart in Augustus 2017 toe ’n ander spesiaal ontwerpte tenkskip die eerste handelskip was wat die Arktiese See in die somer sonder ’n ysbreker oorgesteek het. Dit het die skip 19 dae geneem om van Noorweë na Suid-Korea te vaar, wat byna ’n week korter is as via die Middellandse See.

’n Houerskip van die Deense skeepsredery Maersk is tans ter see in ’n baanbreker-toetsvaart vir ’n houerskip – hy vaar van Suid-Korea af na Bremerhaven in Duitsland via die noordelike seeroete, het Sputnik News Maandag berig.

Die vaart sal na verwagting 23 dae duur, teenoor 34 dae via die Suez-kanaal en 46 dae om die Kaap die Goeie Hoop. Die skip word vergesel van vier Russiese kernaangedrewe ysbrekers.

Rosatom, die Russiese staatsbeheerde kernmaatskappy wat die ysbrekers voorsien, bemark die roete aan skeepsrederye as ’n seerower-vrye roete met geen wagtye.

Navorsing wys die mediaan-sentrum van skeepsbedrywighede in die Arktiese gebied het oor ’n tydperk van sewe jaar 300 km noord en oos beweeg. Vragvolumes op die noordelike seeroete het in 2017 met byna 40% tot 9,7 miljoen ton gestyg, volgens inligting van die Russiese federale agentskap vir maritieme en riviervervoer. Dit kan teen 2022 tot 40 miljoen ton styg en teen 2030 tot tussen 70 miljoen ton en 80 miljoen ton.

Die nuwe skeepsroetes hou voor- en nadele in, waarsku Volker Dierks, hoof van mariene romponderskrywing by AGCS in Sentraal- en Oos-Europa.

China het in Februarie vanjaar sy planne vir ’n “Arktiese syroete” bekend gemaak om nuwe seeroetes te ontwikkel wat deur aardverhitting moontlik gemaak word.

Die internasionale kode vir die veiligheid van skepe in die Poolsee het in 2017 van krag geword. Dit stippel verpligte vereistes uit wat onder meer betref ysnavigasie, skeepsontwerp en bemanning.

Namate die ys in die Arktiese gebiede smelt, is daar al hoe meer ysberge wat in die pad van ander seeroetes kan indryf en ’n risiko vir skepe kan inhou, waarsku Arnaud Gibrais, ’n senior mariene-risikokonsultant van AGCS in Parys.

venta maersk

Meer oor:  Klimaatsverandering  |  See  |  Seeroete  |  Versekering  |  Skeepshouers  |  Vervoer  |  Skepe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.